Chaos het Vrydag (27 Januarie) om 11:00 in Worcester se hoofstraat uitgebreek toe ’n man weens ’n hartaanval van sy fiets afgeval en kort daarna gesterf het.
Francois “Fanie” Engels (47), ’n bekende oudwerknemer by die begrafnisondernemer Doves, het oudergewoonte op die sypaadjie met sy fiets gery toe die teëspoed hom tref.
Engels was op sy fiets in Hoofstraat, op pad om by Adderleystraat in te draai, toe hy ’n dodelike hartaanval kry.
Luciano du Toit, ’n inwoner van Worcester, het toevallig op die sypaadjie gestap toe hierdie vreeslike affêre soos ’n fliek voor hom afspeel.
“Dit het baie vinnig gebeur. Ek het hom gesien ry en toe, die volgende oomblik, toe lê hy net. Ek en ’n paar ander mense het hom probeer help, maar hy was reeds dood.”
AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het die voorval aan Standard bevestig en bevestig dat geen misdaad vermoed word nie.
Anita Bardman, ’n omstander en ooggetuie, het hom ook probeer help.
“Ek kan nie oor dit kom nie. Dit was alles in ’n oogwink verby. Dit wys net hoe kort die lewe is en hoe skielik die dood is.”
Engels se vrou, Lydia, was baie geskok toe die nuus aan haar gebreek is.
“Ek was nog besig toe iemand my roep. Ek is dadelik soontoe om te kyk. Ek het nooit in my lewe iets soos dit verwag nie.”
Sy weet nie waarheen hy op pad was toe hy gesterf het nie.
“Hy was heeltyd besig met klein werkies hier en daar waar hy inkomste kon kry. Hy het ’n paar keer oor moegheid gekla – veral as hy trappe geklim het – maar om so van ons weggeneem te word, was ’n groot skok.”
Engels laat sy vrou en vyf kinders agter.
Talle inwoners het hul eer aan hom en meegevoel met sy gesin op sosiale media betoon.
“Ek sal hom mis vir sy grappies en vir hoe hy my en almal behandel het. Hy is baie vroeg van ons weggevat,” voeg sy vrou by.. Begrafnisreëlings sal later vandeesweek gefinaliseer word.





