Nizaam Sauls is gevind. Foto:

Credit: SYSTEM

Nizaam Sauls (25) van Robertson, wat sedert Donderdag 5 Oktober vermis was, is Sondag gevind.

’n Oud-inwoner van Robertson, wat by die New Somerset-hospitaal in Kaapstad werk, het hom Sondag in die wagkamer van die hospitaal gekry.

“Hy het verby Nizaam geloop en Nizaam het hom herken en geroep. Hy het hom toe gevra om sy familie te kontak. Dis toe hy ’n inskrywing op Facebook gemaak het waarin hy vra dat ons as familie in kennis gestel moet word,” verduidelik Nizaam se tannie, wat net as Jackie geken wil word.

Standard & Gazette het vroeër berig Sauls is die laaste keer op die oggend van 5 Oktober gesien. Sy suster het destyds gesê sy het hom laas om 06:00 in gravel-gat gesien. Die familie het elke leidraad wat hulle ontvang het, opgevolg, maar dit was tevergeefs.

“Toe ons Sondag die nuus ontvang dat hy lewe en veilig is, was ons verheug. My seun het vir my die Facebook-inskrywing gewys en ons het onmiddellik die outjie se nommer in die hande gekry om te bel. Ons het ook begin geld onder ons bymekaar maak om deur te ry, maar toe onthou ons Nizaam se pa woon in Kaapstad en ons het hom toe gekontak om Nizaam te gaan haal.”

Sauls se ma en ander familielede is Maandag na Kaapstad.

“Ons weet nie regtig wat met hom gebeur het nie. Sy arm is gebreek en sy skouer is beseer. Hy kan ook nie vir ons sê hoe lank hy in die hospitaal was nie en waar hy was nie, of wat met hom gebeur het nie. Hy het ook verkies om by sy pa aan te sterk.”

Jackie verduidelik ook die familie was die afgelope paar maande deur ’n bitter moeilike tyd.

“Ons as familie is deur ’n baie moeilike tyd. Niemand weet hoe ons gevoel het nie. Daar het so baie gerugte by ons uitgekom dat ons nie kon byhou nie. Ons het niemand van enigiets beskuldig nie, daar was so baie stories in omloop. Ons is net bly dat hy nou veilig is en dankbaar vir die Here se hand.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article