Brendon Arendse is Maandag dood in ’n veld gevind.

Credit: SYSTEM

Maandagoggend is die lyk van man langs ’n boom in Riverview gevind.

Die man was in ’n sittende posisie langs die boom in ’n veld agter Hoërskool Somerset gekry en volgens die polisie blyk dit asof dit selfdood was.

“Die polisie het om 08:10 Maandagoggend ’n oproep oor die liggaam gekry. Met die polisie se aankoms op die toneel was die man in ’n sittende posisie langs die boom gekry. Daar was ’n tou om sy nek vasgemaak en die ander punt van die tou was om een van die boom se takke vasgemaak. Die 30-jarige oorledene, Brendon Arendse, was in blou en swart nagklere geklee en het ook ’n swart hoodie met wit tekkies aangehad. Sy gesig was bedek met ’n blou baadjie en ’n doek,” het ao Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie verduidelik.

Arendse se vriendin van 12 jaar, Chadia Jones, asook sy familie is van mening dat hy dit nie aan homself gedoen het nie.

“Hoewel hy by bendes betrokke was en dinge dalk hom soms kon gedruk het, het hy nooit sulke gedagtes gehad nie, dit het oor die jare nie in enige gesprekke op gekom nie.”

Jones het Sondagoggend net na 08:00 laas vir Arendse lewend gesien.

“Hy is Saterdag middag weg met sy vriende, in sy nagklere, want ons het heeldag gelê. Sondagoggend teen 06:00 het hy die motor kom parkeer en was daar in die ronde met sy vriende. Net ná 08:00 het hy kom groet. Later die aand het ek vir sy broer gevra of hy al by die huis was en hy sê toe nee hy is nie, hulle het gedink hy slaap by my. Onmiddellik het ek gesê sodra die krag na beurtkrag aangaan, gaan ek hom soek.”

Jones het oral in die ronde gevra of iemand dalk vir Arendse gesien het, maar almal het gesê hulle het hom die oggend laas gesien.

“Ek het tot voor 02:00 Maandag buite gesit in die hoop dat hy sou huis toe kom. Ek het by sy vriende op die hoek gaan sit en vir hulle gesê sodra dit lig raak gaan ek verder soek.”

Jones, tesame met ’n groep van die oorledene se vriende, het Maandagoggend vroeg hul soektog voortgesit.

“Na ’n ruk se gesoekery het ek net gehoor een van sy vriende skree, ‘Chadia, hier hang Benny.’ Ek kyk toe op in die lug om te sien waar hy hang, maar het niks gesien nie. Hy was in ’n sittende posisie langs ’n boom.”

Jones en sy familie meen Arendse het nie homself gehang nie want daar is ’n hele paar goed wat nie sin maak nie.

“Daar waar hy gevind was, is dit modderig en nat, ons skoene was nat van hoe ons deur die nat gras en modder geloop het, maar sy skoene was skoon. Om sy nek was ’n wiel se binneband vasgemaak en dit was aan ’n stukkie tou vasgemaak, en die tou was aan ’n dun takkie vasgemaak. Daar was niks op die toneel waarop hy kon gestaan het as hy homself wou gehang het nie.”

Sy deel ook met Standard dat hierdie gebeure haar verskriklik emosioneel maak.

“Hy was ’n respekvolle mense en het mooi maniere gehad. Elke oggend wanneer ek opstaan is ek oorkom met emosies. Ons is almal baie hartseer. Dis nie iets wat ons verwag het nie, dat hy op so ’n manier sou sterf nie.”

Arendse word Saterdag 29 Julie ter ruste gelê. ’n Diens sal om 11:00 by hul huis by die P5-blok in die Riverview woonstelle gehou word en die kerkdiens begin om 12:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk op die hoek van Parkerstraat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article