’n Familie van Bonnievale is baie teleurgesteld nadat hulle met hul ma se kis in wind en weer moes staan omdat die munisipale saal wat hulle vir haar begrafnis gehuur het nie oopgesluit is nie.
Ná ’n uur se gewag moes die familie maar ’n ander plan maak.
Karel Soldaat, ’n inwoner van dié dorp in die Langeberg-streek, wou vir sy ma, Bettie Jordaan, ’n waardige afskeid gee toe sy in Julie vanjaar oorlede is. Hy het die munisipaliteit genader om die Chris van Zyl-saal te huur en het R1 150 aan die Langeberg-munisipaliteit betaal.
“Tot vandag toe is die saal nog nie oopgesluit nie en ons het steeds nie ons geld teruggekry nie,” vertel Soldaat.
Soldaat het Saterdag 23 Julie met al die gaste, sowel as die kis, by die saal opgedaag – net om in die wind en weer te moes staan en rondbel om te hoor hoekom die saal nie oopgesluit is nie.
“Ons moes almal in die reën staan – deure gesluit; niemand in sig nie. Toe ek uiteindelik met die verantwoordelike amptenaar praat, is ek ingelig dat hy tans by die bank is en nie sal kan gaan oopsluit nie. Ek was diep geskok. Ek het ’n ruk gewag, weer gebel en is dieselfde meegedeel. Ons moes toe maar ’n ander plan maak.”
Soldaat en sy moeder se familie en vriende moes, nadat hulle sopnat gereën het, direk na die graf gaan.
“Geen diens, geen mooi woorde nie – ons moes maar my moeder net so gaan begrawe,” voeg ’n emosionele Soldaat by.
Standard het na die Langeberg-munisipaliteit uitgereik, en hulle het bevestig dat hulle wel kennis neem van die situasie.
“Ons het met meneer Soldaat vergader en om verskoning gevra vir enige wankommunikasie of fout wat ingeglip het. Dit was niemand se bedoeling nie. Die saal was bespreek om 09:00 in gebruik geneem te word. Die opsigter het die perseel teen 10:15 verlaat en is om 10:47 eers deur die familie gekontak,” verduidelik Willy-John Gordon, ’n woordvoerder van die munisipaliteit.
Soldaat voer egter aan daardie tyd was nie bevestig nie en die opsigter kon die familie vooraf gekontak het om te laat weet hy gaan die perseel verlaat.
Ook, op die dokumentasie wat die Soldaat-familie aan Standard verskaf het, wys dit die saal, die bedrag en die datum – geen tyd is by die ruimte daarvoor ingevul nie.
“Ons is net hartseer. Ons is diep teleurgesteld. Hoe doen ’n mens so iets aan iemand wat oorlede is?”
Die Langeberg-munisipaliteit het aangedui die Soldaat-familie sal ’n terugbetaling kry mits hulle self na die munisipale kantoor kom om dit af te haal en af te teken.





