Die Fairy Glen-leeus moes uitgesit word weens hul brandwonde.


Die trustees wat die Fairy Glen-wildreservaat besit, het ’n persverklaring uitgereik na aanleiding van wat met hul leeus gebeur het en die gevolglike wydverspreide mediadekking.

“Ons is ontsteld oor die dood van die drie leeus van die Fairy Glen-natuurreservaat. Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het die leeus op Donderdag 1 Februarie uitgesit nadat hulle na bewering noodlottige brandwonde opgedoen het in die veldbrand wat die Brandwach-gebied op 26 Januarie verwoes het,” lui die verklaring.

Die trustees van die Piet de Jager Trust bestaan uit Pieter de Jager, Johann de Jager en hul suster Marianne Nielsen. Johann de Jager en Nielsen is glo om 12:00 van die brand by die reservaat in kennis gestel en die trust het om 14:30 beveel dat inwoners en werknemers moet ontruim.

“Verskeie werknemers het gebly en vrywillig aangebied om die diere na veiligheid te beweeg en om met die bestryding van die veldbrand te help. Ten spyte van die pogings van brandbestryders, boere en lede van die publiek, het die veldbrand vinnig versprei en verwoesting op Fairy Glen gesaai. Die leeus was sy mees ongelukkige slagoffers,” lui die verklaring.

Pieter de Jager het vroeër aan Standard & Gazette gesê ’n veearts is ingeroep om na die diere te kyk en ook behandeling vir die leeus se brandwonde toe te dien. Die verklaring maak ook melding hiervan.

Die verklaring verduidelik egter verder dat die NDBV nie genoeg kennis aan die trustees gegee het voordat hulle die leeus uitgesit het nie.

“Die NDBV het versuim om die trustees op 1 Februarie behoorlik kennis te gee van hul voorneme om die leeus uit te sit. Dit is jammer, aangesien vroeëre ingryping deur die NDBV, deur ons óf na dr. Peter Caldwell te verwys óf ons te adviseer oor ’n beter behandelingsplan, die leeus kon gered het of ’n vroeër einde aan hul lyding kon maak.”

Die verklaring verduidelik ook dat dit nooit die trustees se bedoeling was om behandeling van die leeus te weerhou of om hulle lyding te verleng nie.

“Die leeus en die trustees het uiteindelik op die advies van ’n professionele persoon staatgemaak en ons het geglo dat al die nodige stappe gedoen word vir die leeus se herstel tot volle gesondheid. Ons is tot op hede, ten spyte van verskeie versoeke aan die NDBV, nie van empiriese bewyse voorsien wat anders voorstel nie.”

Die kwessie van die permitte wat verval het, word in die verklaring toegeskryf aan die vorige bestuur van die reservaat.

“Hoewel dit betreurenswaardig is dat, weens ’n gebrek aan behoorlike kommunikasie tussen die trustees en die voormalige bestuur van Fairy Glen, die nodige aansoeke vir permitte nie betyds afgehandel is nie, streef ons daarna om nou saam met Cape Nature te werk om te verseker dat ons behoorlik voldoen aan die statute, reëls en regulasies wat dierewelsyn in Suid-Afrika beheer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article