ASHTON. – Die Evergreens-rugbyspan van Ashton gaan volgende jaar in die 2024-rugbyseisoen sy spiere in Boland se streekuitdaagkompetisie bult nadat hy die afgelope Saterdag (7 Oktober) Le Chasseur RVK in ’n promosie/relegasie-wedstryd net-net met 23-21 op die Cogmanskloof-sportveld geklop het.
Dié deurslaggewende kragmeting was ’n armdrukstryd soos min. Nie een van die twee spanne wou bes gee nie.
Rustyd was hulle met 10 punte elk gelyk.
Evergreens se punte in daardie stadium het bestaan uit twee onverdoelde drieë, terwyl Le Chasseur in dieselfde tyd ’n verdoelde drie en ’n strafdoel aangeteken het.
Nadat die spanne kante geruil het, het Evergreens nog 13 punte, ’n verdoelde drie en twee strafdoele by sy rustydtelling gevoeg. Op sy beurt het Le Chasseur, wat nie ’n tree vir die tuisspan teruggestaan het nie, ook ’n drie en twee strafdoele in die tweede helfte aangeteken.
Albei spanne het met aggressiewe spel en kragtige plettervatte behoorlik onder mekaar ingeklim.
Die skeidsregter, Habrey Philander, het gedurende die eerste helfte albei spanne in afsonderlike voorvalle weens ontoelaatbare spel met geelkaarte gestraf.
Evergreens, wat hul kanse ietwat beter benut het, het uiteindelik die belangrike kragmeting naelskraaps met 23-21 gewen en met dié sege sy plek in aanstaande jaar se streekuitdaagkompetisie verseker.




