Tertia Davids-Minnies (regs) saam met Elna von Schlicht, die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.


Tertia Davids-Minnies van Worcester is verlede week tydens ’n prysuitdelings­geleentheid vir haar bydrae tot basiese onderwys in die dorp vereer.

Davids-Minnies was die opvolger in die “Fenomenale vrou in basiese onderwys”-afdeling by die onlangse Fenomenale vroue van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit-prysuitdeling, wat deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) gereël is.

“Ek doen goed [liefdadigheidswerk], maar wil nie altyd gesien word nie,” het Davids-Minnies gesê en verduidelik sy staan die jeug rondom haar reeds ’n geruime tyd weg van die kollig by.

Davids-Minnies is ’n gr. 4-onderwyser by Esselenpark Primêre Skool en is al lank reeds by verskeie projekte betrokke waarin die jeug in die gemeenskap ondersteun word.

Van dié programme sluit in sopkombuiste, die aankoop van skoolklere asook jeugprogramme by die VGK Worcester-Oos, waar Davids-Minnies ’n gemeentelid én jeugleier is.

Haar dryfveer, volgens die geliefde onderwyser, is om die jeug te ondersteun en “hulle uit die strate te hou”.

Sy is ook die stigter van die Facebook-groep “Vriendinne” wat mekaar ondersteun enal oor die 16 000 volgelinge (meestal vroue) het, en waar daaglikse bemoedigende boodskappe gestuur en uitgeruil word.

Volgens Davids-Minnies sal sy hierdie boodskap aan vandag se jeug wil oordra: “Glo in jouself, en moenie vaskyk in jou omstandighede nie. Werk hard, en met alles wat aangepak word, sit God eerste.”

Davids-Minnies het by die prysuitdelingsgeselligheid ook skouers geskuur met die televisie-aanbieder Heinrich Wyngaard asook die KWDM se burgemeester, Elna von Schlicht.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article