Die Langebergse polisiekonstabel Esmarelda (Essie) Philander styg uit in haar beroep.Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU. – Van plaaskind tot die beste polisiebeampte in die afdeling Sigbare Polisiëring in die Wes-Kaapprovinsie. Dit wil gedoen wees!

Dit klink amper soos ’n sprokiesverhaal. Tog is dit konst. Esmarelda (Essie) Philander, ’n dinamiese polisievrou verbonde aan die Montagu-polisiekantoor, wat letterlik bo haar omstandighede uitgestyg het, se ware lewensverhaal.

Philander het op die plaas Leeuhoek in die Koo-vallei grootgeword en haar skoolloopbaan by G.B. Batt Primêr (ook in die Koo) begin, waarna sy in 2012 aan die Cape Academy of Maths, Science and Technology matrikuleer het.

“Ek het daarna maatskaplike werk by Hugenote-kollege gaan studeer, maar in 2014 besluit om my by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te sluit. Ek het op 22 September 2014 met opleiding by die Philippi- polisiekollege begin,” vertel Philander.

Sy is ná haar basiese opleiding in Montagu gestasioneer, waar sy as skoflid begin werk het.

Philander is op 30 Augustus 2016 as maatskaplikemisdaad-voorkomingsbeampte aangestel nadat sy om die pos aansoek gedoen het.

Sedertdien is sy betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte wat maatskaplike kwessies soos geslagsgebaseerde misdaad, gesinsgeweld, misdaad teen vroue en kinders en so meer in die gemeenskap aanpak.

Toe die geleentheid – die jaarlikse prestige- toekennings van die polisie – hom voordoen, het Philander haarself vir die kategorie Sigbare Polisiëring: Werknemer van die Jaar (vlak 5-7) ingeskryf.

Sy het die kortlys van drie kandidate ná ’n deeglike beoordelingsproses gehaal. Die ander twee teen wie sy te staan gekom het, was konst. M.S. Abrahams, wat by die provinsiale kantoor (Wes-Kaap) van die polisie werk, en sers. E.J. Fortuin, wat by die Kraaifontein-polisiekantoor gestasioneer is.

Philander het egter stof in haar twee kollegas se oë geskop en die prys gewen.

Maar wat beteken dit vir haar?

“Die Wes-Kaapse polisie hou elke jaar die prestige- toekennings waar beamptes en werknemers van die polisie vir uitstaande prestasies vereer word.

“Dit is dus ’n lekker gevoel om te weet jou harde werk word tog iewers raakgesien en erkenning word daaraan gegee.

“Ek was dis natuurlik verheug oor die toekenning en die erkenning, en dit nogal op só ’n glansryke geleentheid.

“Dit spoor my net aan om nog beter te doen vorentoe,” verduidelik Philander met ’n breë glimlag.

Sy voeg ernstig by: “Ek hoop regtig hierdie prestasie van my, as ’n plaaskind, dra ’n positiewe boodskap aan veral ons jeug in die landelike gebiede uit.

“Baie van hulle los sommer skool en verval in ’n groef en dink plaaswerk is al wat hulle kan doen.

“Nee, dit is nie.

“Ons hoef nie in ons omstandighede vasgevang te bly sit nie. Ons kan beter doen.”

Die Montagu-gemeenskapspo­lisiëringsforum (GPF) met wie Philander nou saamwerk en baie projekte saam aanpak, het by dieselfde geleentheid met die Gemeenskapspolisiëringsforum van die Jaar-prys wegge­stap.

Philander sê sy is sommer baie trots op Rhoda Negus, die voorsitter van Montagu GPF, en haar bestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article