Die skielike opgradering na fase 4-beurtkrag Dinsdag moes gedoen word om ’n algehele ineenstorting van die stelsel te voorkom, het André de Ruyter, die uitvoerende hoof van Eskom, Dinsdag (19 April) op ’n nuuskonferensie gesê.
Suid-Afrika staar ’n somber energievooruitsig in die gesig, met beurtkrag wat na verwagting vir ’n groot deel van die week – minstens tot môre (Vrydag) – sou voortduur.
De Ruyter het gesê die kragvoorsiener het algeheel onbeplande onderbrekings van 15 672 MW, wat “onaanvaarbaar hoog” is en tot die instelling van fase 4-beurtkrag gelei het. Hy het bygevoeg ’n aansienlike tekort is Dinsdagaand verwag, wat Eskom geen keuse gelaat het as om sowat 4 000 MW se vraag af te skud om absolute ineenstorting te voorkom nie.
Eskom het Dinsdagoggend skielik beurtkrag tot fase 4 verhoog nadat die staatsbeheerde elektrisiteitsvoorsiener nog opwekkingseenhede verloor het.
“Ongelukkig is Eskom pas gedwing om fase 4-beurtkrag in te stel nadat die Majuba-eenheid 5 en die Tutuka-eenheid 4 gebreek het. ’n Volledige verklaring sal mettertyd gepubliseer word,” het die maatskappy op Twitter gesê.
Dit was ná Eskom se besluit om die krag op Paassondag na fase 2 te onderbreek, wanneer die vraag na elektrisiteit gewoonlik laag is.
Dié besluit het gekom nadat Eskom bekend gemaak het dat meer as 17 GW se opwekkingsvermoë weens onbeplande onderbrekings nie beskikbaar is nie.
Saam met opwekkingseenhede wat vir beplande instandhouding (5,5GW) af was, het dit beteken meer as die helfte van Eskom se algehele opwekkingsvermoë was van Sondagmiddag van lyn af. Benewens die breek van opwekkers het Eskom ook die koue en reënweer die skuld vir sy gebrekkige opwekkingsvermoë gegee.
Philip Dukashe, Eskom se uitvoerende hoof van kragopwekking, het gesê die toename in aanvraag, tesame met die verlies aan opwekkingseenhede het Eskom se beplanning beïnvloed.
“Sommige van ons eenhede, wat deur reën geraak is, moes met die gebruik van olie aangehelp word. Ons het probleme met die vloei van steenkool. As die reën konsekwent is, word ons vermoë om dit te bestuur, baie moeilik,” het Dukashe gesê.
De Ruyter het verder gesê die maatskappy se plan vir onafhanklike kragverkryging moet bespoedig word.
“Agt jaar se vertragings het ’n aansienlike bottelnek in nuwe vermoë wat by die netwerk gevoeg word, veroorsaak,” het hy gesê.
“Ons glo wel dat daar ongeveer 200 onafhanklike verskaffers is met krag wat hulle van tyd tot tyd beskikbaar het. Hulle word egter verhoed om dit in die netwerk in te voer. Ons wil die kantoor vir onafhanklike kragvoorsiening versoek om sy pogings te versnel om dié kontrakte te wysig,” het De Ruyter gesê.





