Ná ’n onderbreking vind die gewilde Boekefees weer van Vrydag 14 tot Sondag 16 Junie plaas. Hierdie bielie van ’n boekverkoping word in die munisipale saal in McGregor se Voortrekkerstraat gehou.
Vanjaar word ’n magdom boeke – meer as 12 000 – aangebied, waarvan sowat die helfte splinternuut is.
Die Boekefees is al beskryf as “die grootste boekemark in die Wes-Kaap”, met vragte winskopies. Skaars en buitengewone boeke, kinderboeke, kookboeke, reisverhale, geestelike boeke, fiksie en nie-fiksie – noem maar op, dis daar. Nuwe boeke word elke dag uitgepak.
Die totale opbrengs van hierdie geleentheid word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies, wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg.
Eseltjiesrus in McGregor bied vir hulle ’n permanente en veilige tuiste.
Verder bied Eseltjiesrus ook opvoedkundige projekte aan en funksioneer oor Suid-Afrika heen.
Besoekers kry lekker leesgoed vir die winter by die Boekefees en ondersteun terselfdertyd hierdie betroubare skepsels.
Donkies word gereeld gespot en geminag. Hulle is egter saggeaard en herken swaarkry in mense. Hulle leer die mens dat nederigheid ’n teken van krag is, eerder as ’n swakheid. Hulle is ook getrou en sedert Bybelse tye met ons.
. Kontak Tony by 083 326 3476 (slegs WhatsApp) of per e-pos by bookfair@donkeysanctuary.co.za met enige navrae.
. Die donkies by Eseltjiesrus in McGregor verwelkom besoekers van Donderdae tot Sondae, van 10:00 tot 16:00. Eseltjiesrus het ook ’n koffiewinkel.


