Sr. Elaine Jacobs sê dit is kommerwekkend dat nie alle ouers hul dogters teen servikale kanker wil laat ent nie.


Altesaam 3 079 graad 5-meisies in die Kaapse Wynland het reeds hul eerste dosis entstof teen servikale kanker gekry.

Gesondheidswerkers wat skole in die streek besoek om die gr. 5’s teen die virus, wat lei tot servikale kanker, in te ent, vorder goed.

Ouers wat nog nie toestemmings­briewe voltooi het dat hul dogter hierdie inenting by die skool kan kry nie, moet opskud. Die huidige veldtog eindig 31 Maart.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se personeel besoek reeds sedert Februarie hoofstroom- en spesiale skole om gratis die entstof toe te dien aan meisies in gr. 5 wat nege jaar en ouer is. Dit word slegs gegee aan meisies wie se ouers toestemming gegee het. Deur die inenting teen menslike papiloomvirus (MPV) te gee op hierdie ouderdom, kan servikale kanker gestuit word.

Ouers en versorgers het ’n belangrike rol om te speel, sê sr. Elaine Jacobs. Sy is lid van die span wat skole in die Breedevallei besoek om die entstof toe te dien.

“Dit is hartseer én kommerwekkend dat sommige ouers nie hul toestemming wil gee vir die entstof nie omdat hulle dit verwar met die entstof teen Covid-19,” sê sy. Sy maan ouers en voogde om daarop te let dat indien hulle die vrywaringsvorm onderteken wat uitgereik word as deel van die veldtog teen MPV, hul dogter slegs ingeënt sal word teen MPV. ’n Aparte toestemmingsvorm word voltooi indien toestemming gegee word vir leerders om teen Covid-19 ingeënt te word.

Hoe meer meisies wat kwalifiseer teen MPV ingeënt word, hoe kleiner is hul risiko om servikale kanker in hul leeftyd op te doen. MPV is die hoofoorsaak van kanker onder Suid-Afrikaanse vroue tussen 15 en 44 jaar. Altesaam 70% van servikale kankers word deur MPV veroorsaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article