Die trane rol los oor my wange. ’n Gemengde gevoel van hartseer en blydskap beweeg soos ’n golf deur my binneste en vae herinneringe van stories wat om ’n gally-blik aan my oorvertel is suis deur my gedagtes.
Die laaste keer toe ek só gevoel het, was toe ek ’n reeks foto’s van Distrik Ses by die opening van die Suidoosterfees in 2015 gesien het. Vandag net ’n bietjie meer as twee jaar later kom dieselfde gevoel oor my terwyl ek na die rieldansers van G.B. Batt Primêr van die Koo kyk.
Hierdie keer het dit meer waarde – meer betekenis – en dis asof ’n gedeelte van my lewenslegkaart in plek gesit is. Meteens besef ek: dit is my erfenis. Die nalatenskap wat deur my voorvaders vir my agtergelaat is – dit is waar ek vandaan kom. Dit is waar ek behoort. Dit is wie ek is.
As ’n sogenaamde “kleurling” met voorouers van Duitse, Franse, Koi, San, Griekwa en selfs Kaaps-Maleise herkoms, was dit nog altyd vir my ’n uitdaging om my regmatige plek in die samelewing te vind.
Die konstante gewikkel tussen kleur- en kultuurgrense het my soos ’n buitestander laat voel in ’n land wat as die reënboognasie bekend staan. Waar pas ek in? Watter kleur is ek in dié reënboog? Of is die reënboog ’n teken, soos in die Bybel, dat ek – my erfenis – nooit weer iets sal wees wat die volgende generasie niks van sal weet nie?
Néé, daar sal altyd ’n plek vir my erfenis in die reënboognasie wees. Solank as wat die stories van Distrik Ses om die gally-blik vertel word of my erfenis deur ’n rieldans uitgebeeld word, sal die volgende generasie en die generasie wat daarop volg van my bestaan weet.
Daar is plek vir ons elkeen in die reënboog, maak nie saak wat ons erfenis is nie.
Elke keer wanneer daar van die Anglo-Boereoorlog, die Voortrekkers, die Zoeloe-burgeroorlog of die stories van anti-apartheidsaktiviste vertel word, word ’n kleur in die reënboog van ons nasie geweef.
Wanneer tradisionele danse gedans word of die Kaapse Klopse op Tweede Nuwejaar dans, simboliseer dit bevryding en word ’n kleur in die reënboog duideliker vir die volgende generasie.
Elke keer wanneer ek pap en suurmelk saam met my Xhosavriende eet of na die klanke van trekklaviere of die konsertina van ’n tradisionele boereorkes luister, weet ek daar is ’n plek vir my in dié reënboog.
’n Reënboog is ’n kleurboog wat in sekere omstandighede gevorm word – ’n wye reeks of verskeidenheid verwante en tipies kleurryke dinge, of in ons geval, mense. Dit is ’n simbool van vrede, harmonie, diversiteit en verdraagsaamheid. Dit is nie ’n reënboog as dit nie uit verskillende kleure bestaan nie.
Elkeen van ons se erfenis is ’n kleur in die reënboog van ons nasie. Ons tradisies, stories en danspassies is simbole van hoe ver ons as ’n nasie oor die jare heen gekom het.
Kom ons leer mekaar se erfenis ken. Kom ons wees ’n bietjie meer verdraagsaam teenoor mekaar se tradisies en erfenis. Kom ons laat toe dat die erfenis van ons broers en susters die kleure van ons reënboognasie voltooi vir die volgende generasie om te aanskou.




