Mandeladag word elke jaar op 18 Julie ter viering van oudpresident Nelson Mandela, wat op hierdie dag verjaar het, gedenk.
Wêreldwyd vier mense hierdie dag deur 67 minute vrywillige dienste te lewer of ’n bydrae te maak wat ’n positiewe verskil in iemand se lewe of die gemeenskap kan maak.
By die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) is elke dag egter Mandeladag. As organisasie sonder winsbejag is ons deurlopend afhanklik van bydraes en ondersteuning uit die gemeenskap om ’n positiewe verskil in die lewe van ons Dowe begunstigdes te kan maak.
Ons is dankbaar vir oop hande en harte, wat soveel meer as 67 minute gee, en vir seëninge in oorvloed elke dag.
Een van ons grootste behoeftes hierdie Mandeladag, maar ook elke ander dag, is die versorging van ons bejaarde en meervoudig gestremde Dowe inwoners by NID Sorg. Hierdie inwoners benodig daaglikse spesiale sorg en verskeie van hulle het nie ondersteuning van enige familie of vriende nie. NID is hul tuiste en moet voorsien in hul mees basiese behoeftes soos kos, toiletware en versorging.
Hoe kan jy help?
. Skenk ‘n toiletware-pakkie ten bate van ’n Dowe inwoner by NID. Die lysie sluit in benodigdhede soos tandepasta, seep, sjampoe, toiletpapier en ’n paar ander noodsaaklikhede. Stuur e-pos na fr.nid@nid.org.za en ons stuur vir jou die volledige behoefte-lys. Mandeladag-pakkies kan teen 29 Julie ingegee word, maar enige bydraes is ook welkom regdeur die jaar. . Skenk jou gebruikte klere, boeke, kombuisware en enige ander huishoudelike artikels aan die NID Fabulous Finds-liefdadigheidswinkel. Hierdie artikels word weer teen billike pryse aan die gemeenskap verkoop en die geld word vir NID Sorg aangewend. Jou tweedehandse produkte kan ’n eersteklas-verskil in hul lewe maak. . Indien jy verkies om ’n finansiële bydrae te lewer, kan jy jou skenking per EFT na ons bankrekening stuur, met verwysing WS (jou naam en van). Stuur asseblief bewys van betaling na fr.nid@nid.org.za. Rekeningnaam: NID Bank: Absa Worcester Rekeningnommer: 911 845 2209
Vir meer inligting oor enige van die bogenoemde projekte, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 071 375 1426 of e-pos na fr.nid@nid.org.za.
Enige skenkings kan by die NID-hoofkantoor by De la Batweg 30, Worcester, afgelaai word.
By voorbaat baie dankie vir elke Mandeladag- en elke ander bydrae wat ’n verskil in die lewe van ons Dowes en mense met gehoorverlies maak. Jy is kosbaar en ons is dankbaar.


