Aan de Doorns-kelder net buitekant Worcester bied van 25 tot 27 Januarie die Route 43 Expo aan.
Die inisiatief het ontstaan om bemarking te doen, nie net vir die kelder nie, maar ook om vir Worcester-sakeondernemings die geleentheid te gee om blootstelling te kry vir hul unieke en uitstekende produkte. Die kelder se personeel wil hiermee bande smee met hierdie ekspo en teruggee aan die gemeenskap deur almal te nooi om te kom en geniet wat Worcester bied.
Dit sal inderwaarheid ’n landbouskou in die kleine wees. Daar gaan kindervermaak, lewendige musiek, kosstalletjies en vele meer wees. Van gerookte vleise en biltong tot trekkers, spuitpompe, kampwaens, motors, bakkies, motorfietse, landbougereedskap, juwele en klere gaan uitgestal word.
Die JDW Wyntuin sal heerlike biefstuk-etes verkoop wat voorberei is deur die Vryburgers Omgeemense van Worcester. Die toegangsfooi beloop R50 vir volwassenes en R20 vir kinders.




