Soos die opskrif lees, kom die realiteit ook deur. Daar is ’n tyd om te kom, ’n tyd om te bly en dan ja, ook ’n tyd om te gaan.

Met dankbaarheid in my hart groet ek DeafBlind SA aan die einde van Maart. Dit was nogal ’n lang tyd vir my om te bly vanwaar ek begin het as Wes-Kaapse DBSA se provinsiale onder- voorsitter in 2004, toe as nasionale voorsitter van DBSA in 2008 toe ons vele uitdagings gehad het om die organisasie te hervestig en te herregistreer en netwerke te bou en my passie te kon uitleef.

Dit was van die moeilikste jare, maar ook van die mees bevredigende in my hele loopbaan.

Nie almal het gedink dit gaan moontlik wees om DeafBlind SA weer funksioneel die platform van selfverteenwoordiging vir DoofBlinde mense, hul families en versorgers te maak nie, maar dit was so noodsaaklik soos dag en nag.

Toe daardie stadia bereik is, was dit nie my einde nie, maar het die pad voortgegaan van 2013 tot 2018 in my rol as nasionale ontwikkelingsadminis­treerder, waar ons die organisasie met uiters beperkte geld in die provinsies kon plaas en plaaslike leiers na vore kon tree.

So is die Wes-Kaapse DBSA-kantoor geopen en funksioneer dit vandag met ’n provinsiale bestuurder. My laaste paadjie as nasionale direkteur van DeafBlind SA het in 2018 begin.

Steeds was baie aktivisme en voorspraak vir die saak van DoofBlindes en netwerking met verskeie rolspelers my daaglikse brood en botter, maar ek moes ook wys dat ek as DoofBlinde mens ander DoofBlinde mense kan bemagtig en leer om verantwoordelikheid vir die saak te neem.

My lewensfilosofie is om verantwoordelikheid te aanvaar om my meerdere en mindere te leer om ook hul maksimale verantwoordelikheid te aanvaar. Sodoende kan baie van ons land se probleme opgelos word. Ja, as mense verantwoordelikheid nie net vir suksesverhale aanvaar nie, maar ook mislukkings, kan dit in suksesverhale verander. Dit is moontlik as jy toegewyd is en nie net op die probleme en uitdagings fokus nie.

’n Mens moet oral waar jy kom, poog om die wêreld waarin jy leef en waarby jy betrokke is, beter agter te laat as toe jy daar gekom het.

Ek hoop ek het dit bereik.

DeafBlind SA is van 1 April af die verantwoordelikheid van my opvolger, wat ook DoofBlind en ’n vrou met groot drome en ideale vir die organisasie is. Natuurlik gaan daar uitdagings wees, maar met haar leierskap sal hulle kan voortgaan met die ontwikkeling van die organisasie en die behoeftes van DoofBlinde mense. Ek tree wel uit, maar gaan weer aantree binne die gemeenskap hier in Worcester tot eendag wanneer die Here my kom haal.

Dankie, Worcester, vir jul ondersteuning op my pad. Tot ons weer ontmoet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article