Twee paartjies van Worcester is in ’n vermeende slenter elk uit ongeveer R10 000 verkul en die persoon daarvoor verantwoordelik is steeds skoonveld.

Annemarie en Jaco Burger, inwoners van Worcester, is een van die paartjies wat geraak is deur ’n slenter waarin ’n vrou haarself voorgedoen het as ’n eiendomsagent, maar later met die deposito van die huurhuise wat sy namens verskeie eienaars uitverhuur het, gevlug het.

Die Burger-egpaar het in 2021 ’n kontrak geteken om ’n huis in Rouxpark te huur. Dit nadat hulle ’n advertensie vir die woning op Facebook gesien het.

“Dit was perfek. Dit was alles waarna ons gesoek het. Die Facebookblad is bestuur deur ene Cindy Matthews*. Ons het haar gekontak, sy het vir ons die huis gaan wys en sowat ’n maand later, in Mei 2022, het ons ingetrek. Alles was perfek. Dit is egter toe ons bietjie meer as ’n jaar later wou uittrek dat die nonsens begin het,” vertel Annemarie aan Standard.

Die eienaar van die huis woon die afgelope vier jaar in Gauteng en het die eiendom hier behou, juis om verhuur te kan word. Die paartjie het nooit tydens hul okkupasie enigsins met die eienaar te doen gekry nie – net met Matthews.

“Dit was nie vir ons vreemd nie en sy het ons ingelig die eienaar woon ver en sy bestuur dit namens hom. Op haar blad het sy ’n klomp eiendomme en foto’s van plekke gelys. Sy het ook baie betroubaar voorgekom. Selfs terwyl ons gehuur het, kon ons enige tyd op haar knoppie druk. Dit was toe ons ons deposito in September verlede jaar moes terugkry dat sy net verdwyn het.”

Matthews se selfoon is sedertdien afgeskakel.

“Ons moes noodgedwonge verhuis na ’n meer permanente blyplek van ons eie en het staatgemaak op die deposito om ’n paar gate toe te stop. Ons het begin navrae doen in die dorp en ander agente het vir ons gesê dat hulle nie bewus is van so ’n maatskappy of persoon nie. Ek is toe munisipaliteit toe en het navrae gerig oor die eienaar van die huis en kon hom toe gelukkig opspoor,” vertel Annemarie verder.

Hulle het hom ingelig van die situasie en hy was geskok toe die gebeure aan hom verduidelik word.

“Ek het vir Matthews op Facebook opgespoor toe ek ’n agent vir my huis gesoek en gesien het sy was baie aktief. Ek het einde 2020 ’n afspraak met haar gemaak en ons het gekliek. Die huurgeld is elke maand direk in my rekening inbetaal deur die huurders, waarna ek vir Matthews elke maand ’n bedrag sou gee. Sy het egter die deposito ingevorder en verduidelik dat hulle dit, soos die wet bepaal, in ’n rentebouende trust plaas en dan laat uitkeer of allokeer wanneer die mense uittrek,” vertel die eienaar van die huis, George Stevens, aan Standard.

Toe die Burger-egpaar hom kontak, was hy geskok en het ook geen antwoord van Matthews gekry nie.

“Dit is asof sy net verdwyn het. Ek het toe die huurders gevra om ’n saak te open en het ’n prokureur in Worcester gekry wat hierdie saak verder kon vat.”

Intussen is Matthews se persoonlike Facebookprofiel verwyder en so ook haar blad waarop sy verhurings geadverteer het.

’n Plaaslike prokureur wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, bevestig dat hy en sy firma die Burger-egpaar verteenwoordig, maar ook nog ’n paartjie wat ook na bewering deur Matthews ingeloop is.

“Altesaam R22 000 is deur haar verkwansel en twee huiseienaars wat nie in die streek woon nie, moes pa staan vir haar aksies. Ons het ’n familielid van haar opgespoor in die Vrystaat en werk met owerhede om haar op ’n manier vas te trek.

“Ons het ’n idee waar sy tans is, maar wil nie nou te veel uitbrei hieroor nie. Ons wil mense bewus maak van slenters – veral in die aanlyn wêreld. Ons sien elke dag hoe mense ingeloop word.”



.
’n Skuilnaam is gebruik om die identiteit van die verdagte te verskuil om nie die goeie vordering in die ondersoek te belemmer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article