’n Plaaslike eiendomsagent van Worcester het derduisende rande se skade gely nadat ’n man verlede week glo in haar motor vasgejaag en toe weggejaag het.
Lisl Brink het verlede Dinsdagaand (31 Januarie) omstreeks 22:15 in Rabielaan na haar woning in Langerug gery toe ’n man van oorkant die pad teen ’n hengse spoed in haar vasgejaag het.
“Ek wou by Malanstraat indraai en die man uit nêrens het roekeloos aangery, die padtekens geïgnoreer en in my Opel Corsa vasgery. Hy het toe dadelik weggejaag en oor die brug in die rigting van die Drostdy-sentrum gery. Ek het probeer om hom agterna te sit, maar hy het vinnig spore gemaak,” vertel sy aan Standard.
Sy het dadelik ’n klagte by die polisie aangemeld, maar is ingelig dat sy die registrasienommer gaan benodig om ’n klagte teen die bestuurder aan te meld.
Brink is egter eers ’n paar dae daarna ingelig dat slegs ’n ongeluksverslag vir versekeringsdoeleindes geopen is en nie ’n saak teen die bestuurder nie.
“Ek is terug polisie toe om ’n klag teen die bestuurder aan te meld en ek was ook by die verkeersdepartement, maar hulle benodig ’n registrasienommer. Daarbenewens is die ondersoekbeampte eers later vandeesweek weer op kantoor.”
’n Gefrustreerde Brink se motor is afgeskryf oor die feit dat die skade weens die botsing die waarde van die voertuig oorskry.
Brink het ’n plasing op sosiale media gedeel en besonderhede van die grys/silwer Toyota Avanza bygevoeg.
’n Ooggetuie het die vermeende voertuig Vrydagaand (3 Februarie) omstreeks 20:00 in die parkeerterrein van die drankwinkel in die Drostdy-sentrum gesien. ’n Video is geneem van die bestuurder wat in die motor sit waarvan die neus heeltemal verwoes is.
In die video word gesien hoe die man, wat aankope in die drankwinkel gedoen het, probeer uitry, maar eers amper die heining van die sentrum getref het. Hy ry dan weg en die video eindig. Dit is egter moeilik om die registrasienommer van die motor met duidelikheid te sien.
Plaaslike veiligheidsfirmas het ook op kameras in die gebied gaan kyk, maar Standard verneem van die kameras is tydens beurtkrag buite werking.
Standard het toe self ondersoek ingestel en kon met behulp van plaaslike rolspelers en die inligting wat reeds beskikbaar is, vasstel wie die vermeende bestuurder en eienaar van die voertuig is.
Teen druktyd is ’n moontlike adres geïdentifiseer, en Standard het die laaste leidrade opgevolg om die registrasienommer te kry.
“Ek is dankbaar dat Standard en die ander rolspelers my help en meer kon uitrig as die polisie of verkeersdepartement. Ek hoop geregtigheid sal geskied,” het Brink bygevoeg.
Die moontlikheid bestaan dat die voertuig wat by die Drostdy-sentrum gesien is, nie die voertuig is wat in Brink vasgejaag het nie, maar alle inligting tot dusver dui daarop dat dit wel die motor is. Die skade aan die voorkant van die voertuig stem ooreen met die gebeure van die botsing.
Die plaaslike polisie het bevestig ’n saak sal wel geopen word en alle leidrade sal opgevolg word. Brink en talle rolspelers is besig om die saak verder te neem en ’n strafsaak sal geopen word sodra bevestiging verkry is.. Enigiemand met verdere inligting word versoek om die polisie dadelik in kennis te stel.



