’n Paartjie van Rawsonville ly steeds aan skok nadat hulle (Vrydag 14 Oktober) deur twee mans beroof is terwyl hul bloot by ’n stopstraat stilgehou het.
Angeline en Mark Willet van Rawsonville het van Worcester af teruggekeer Rawsonville toe en omstreeks 18:55 by die stopstraat naby Nekkies stilgehou. Wat toe gebeur het, beskryf Angeline as “iets soos uit ’n fliek”.
“Ons het by die stopteken gestop, soos die wet vereis. Daar was ’n motor voor ons wat gedraai het, en ons het nader beweeg. Die volgende oomblik het twee mans voor ons motor ingehardloop en gewys ons moet stilhou. Ons het gedink iets is fout, maar was skepties,” verduidelik Angeline.
Mark wou toe om die mans ry en het dadelik onraad vermoed. Die een man het ’n vuurwapen uit sy sak geruk en dit op Angeline in die passasiersitplek gerig.
“Ek het my kop gesak en my hande opgehou. Ek het die venster so paar sentimeter laat sak en gevra wat hulle wil hê. Hulle het ons selfone geëis, asook geld. Ons het R220 kontant aan ons gehad, wat ons oorhandig het. Hulle het Mark se selfoon gevat en ek het gesukkel om myne uit my broeksak te kry. Hulle het ongeduldig geraak en teen die venster gekap. Een het aan my kant gestaan en die ander een voor die voertuig.”
Terwyl Angeline haar foon gesoek het, het die twee mans in die oorkantste veld ingehardloop toe ’n bakkie van Rawsonville se kant af die kruising nader.
“Ons vermoed dis hoekom hulle gehardloop het. Dinge kon dalk baie erger verloop het. Ek was bang ons word gekaap of iets erger gebeur dalk. Ons is dankbaar nog ’n voertuig het aangery gekom, maar ons is steeds geskok. Hulle het met my man se splinternuwe Samsung-selfoon en die geld weggekom.”
Angeline sê dié gebeurtenis het haar man erg geraak.
“Hy was voorheen al die slagoffer van ’n kaping – in Johannesburg ’n paar jaar gelede. Ons het in 2014 na die Wes-Kaap verhuis, juis omdat misdaad in die stad so erg geraak het. Ons is net dankbaar ons twee kinders was nie in die voertuig nie,” het sy aan Standard verduidelik.
Standard het navrae aan die plaaslike polisie gerig, maar teen druktyd was dit nog onbeantwoord.
Die Willet-egpaar sê hulle het nou hul motor met ’n spesiale paniekknoppie toegerus, wat ’n oproep in die geval van nood aan ’n diensverskaffer stuur. “Ek sal enigiets doen om my gesin te beskerm. Ek kan nie glo dat so iets met ons gebeur het nie, en dan nog boonop so vinnig ook nie.
“Wat gevoel het soos minstens ’n halfuur, was waarskynlik net so drie minute. Ons is dankbaar ons lewe, maar ons hoop dat booswigte soos hierdie vasgetrek word en boet vir die trauma wat hul veroorsaak het,” het Mark bygevoeg.




