’n Paartjie van Worcester was amper die slagoffers van ’n nuwe slenter wat daarop fokus om voornemende huurders uit te buit.
Susan en Wynand de Villiers van Worcester was op soek na die perfekte huis vir hul gesin van vier. Hulle wou graag ’n drieslaapkamerwoning met ’n groot tuin en ’n braaigebied gehad het.
Toe Susan sowat drie weke gelede ’n advertensie op ’n plaaslike Facebookblad sien, was sy verstom met hoe perfek die woning was. Maar enkele ure later is sy met haar lewe gedreig en was sy amper R1 500 kwyt.
“Dit was perfek. Dit was presies waarna ons gesoek het. Ek het dadelik die nommer in die advertensie gebel en dit is waar ons teëspoed begin het,” vertel sy aan Standard.
’n Man het die oproep beantwoord en haar vertel van die huis. Sy was dadelik verlief daarop en wou ’n afspraak maak om te gaan kyk.
“Die man het met ’n swaar aksent Engels gepraat en dit was vreemd omrede die advertensie in Afrikaans was. Ek het gevra of ons dieselfde middag nog na die huis kan gaan kyk en hy het ons ingelig dat baie mense in die huis belangstel.
“Hy het verduidelik dat ons R1 500 deposito moet betaal voordat ons na die woning mag kyk, en as ons goedgekeur word en dit wil neem, dan werk hulle dit by die deposito van die huis in. As ons nie belangstel nie, dan betaal hy dit dadelik terug. Ek was dadelik skepties.”
Susan het die man, wat hom as ene Michael Matthews voorgedoen het, ingelig dat sy net verby die huis wou ry om te kyk en dat sy nie saamstem met die feit dat sy moet betaal om net na die huis te gaan kyk nie.
Die gesprek het toe dadelik ’n lelike wending geneem.
“Hy het my begin vloek en gesê ek moet mooi luister. Ek gaan nie die adres kry voordat ek die geld oorbetaal nie. Ek het verduidelik dat ek ’n saak gaan aanmeld omdat ek voel dis ’n slenter. Die man het doodgedruk en ek was ontsteld.”
Ure later het Susan se foon gelui en ’n vrou aan die ander kant het haar begin dreig.
“Die vrou het gesê sy weet waar ek werk en hulle het my Facebookprofiel gaan besoek. Ek was uiters geskok en het nie geweet wat om te doen nie. Hulle het vir my gesê ek moet nie iets dom en onverantwoordeliks doen nie en as hulle vasgetrek gaan word, sal hulle my en my gesin leed aandoen. Hulle het doodgedruk en intussen is daardie nommer nog die hele tyd af,” verduidelik Susan.
Standard het in Augustus vanjaar ook berig oor soortgelyke slenters waarin die “adverteerder” gesê het aangesien die vraag na die eiendom so hoog is, moet mense eers ’n deposito betaal voordat hulle na die huis mag gaan kyk.
Die plaaslike polisie het toe gesê kubermisdaad en soortgelyke slenters moet dadelik aangemeld word.
“Ons het nie ’n klagte aangemeld nie, maar het vir hulle ’n boodskap gestuur om te verduidelik dat ons nie moeilikheid wou hê nie. Ons wou net die perfekte huis hê.”
Intussen het die De Villiers-gesin ’n woning deur ’n plaaslike verhuringsagentskap gekry.
“Ons trek op 1 Desember in. Ons is opgewonde, maar loer ná die voorval oor die skouer.”




