As jy jou voete gebruik, is 160 km ’n lang pad om af te lê. Baie lank. Maar vir Herman van der Colff is dit nie meer ’n snaaksigheid nie.
Dié Worcesteriet en pilates-instrukteur het nie net vier 100 myl-veldwedlope agter die rug nie, maar het ook verlede maand die Recce Raid in Mpumalanga in 30 uur en 47 minute gewen.
Standard het gaan uitvind hoe ’n mens so iets vermag:
Jy moet seker ’n onmenslike hoeveelheid oefen?
In ’n gemiddelde week, as ek nie spesifiek vir iets oefen nie, miskien 60 km per week vir instandhouding. Dit gaan op tot 80 – maksimum 110 – kilometer per week daardie paar piek-weke voor ’n wedloop.
En my pilates help my verskriklik baie. Die feit dat dit my werk is, help dat ek nie noodwendig soveel hoef in te sit om beseringsvry te bly nie.
Sou jy sê jy het die perfekte dieet?
Ek is nogal sleg daarmee. Ons probeer by die huis om gesond saam met die kinders te eet, maar ek eet waarvoor ek lus is. Dis een van die groot redes waarom ek so ver hardloop. As jy die lang afstande doen, moet jy mos maar terugsit.
Ek eet tien dae voor ’n wedloop net baie. Dit sal ook nie noodwendig baie gesond wees nie, maar net om die glikogeenstore in die liggaam op te bou.
In ’n wedloop is dit natuurlik heeltemal ’n ander saak. Dan eet ek baie spesifiek.
Was jy altyd so fiks?
Ek het van hoërskool af nog altyd van oefen gehou. Ek het so liggies gedraf vir sport. Daarna was ek altyd aan die oefen, soos rotsklim of bergfietsry, maar nie met die intensiteit wat ek nou doen nie. My eerste ultra was Ysterman. ’n Vriend van De Doorns het my in 2016 genooi om dit saam met hom te doen. Toe het ek in veldwedlope gebly – eers ’n paar 100 km en daarna die 100-mylers.
Hoe moeilik was Recce Raid?
Die weer was fantasties – koue nagte – maar die dae was lieflik sonder reën. Maar dit was nie soos ander 100-mylers waar jy elke 10 of 20 km ’n hulpstasie kry nie, so jy dra ’n baie swaar sak saam. Daar was baie drafbare terrein, maar daar was ook baie berge en dale waar daar nie paadjies was nie.
Die vertikale styging was so 5 700 m, wat nie buitensporig is nie, maar genoeg! Ek dink die wedloop se hoogste punt was 2 000 m, so die lug is dun en die hoogte bo seespieël het my gevang.
Maar dis ongelooflik mooi – definitief ’n bucket list race wat ek vir enigiemand sal aanbeveel.
Hoe rus ’n mens tydens so ’n lang wedloop?
Rus verskil van atleet tot atleet. Ek hou nie daarvan om op die 100-mylers te stap nie. Ek sal by die hulpstasies vir ’n paar sekondes sit en iets eet, maar ek probeer dit so kort moontlik hou, want hoe langer ek sit, hoe meer moedeloos raak ek. Verder, as jy moet stap, stap jy maar. En die stapstokke werk vir my ongelooflik goed. Dit haal baie van die spanning van die bene af.
Hoe hou jy ná 100 km aan as jy weet 60 km lê nog voor?
Dit het baie met jou instelling te doen. As jy in jou kop het jy gaan 100 km doen, dan is dit maar rof hier van 60, 70 km af. As jy weet jy gaan 100 myl doen, pace jy maar ’n bietjie anders en as jy op 100 km kom, voel jy seker soos jy op 60 km sou voel as jy net 100 km moes doen.
Om te wen is seker eers harde werk en dan onbeskryflik?
Dit was ’n kleiner wedloop, wat gewis gehelp het, maar ek was bevoorreg genoeg om verlede jaar in Augustus ’n handelsmerk-ambassadeur vir ON-skoene te wees. Dit het my baie gemotiveer om meer spesifiek te begin oefen; dit was ’n game changer vir my.
Dit was die eerste ultra wat ek gewen het en dit was ’n ongelooflike gevoel van dankbaarheid met dié een.
Wat is jou volgende mikpunt?
Ek het in 2019 my eerste 100-myler gedoen omdat ek besluit het ek wil vir die CCC in Frankryk inskryf – dis ’n 100 km-wedloop; die holy grail van veldwedlope. Jy moet punte opbou om vir die lotery-stelsel wat hulle vir inskrywings gebruik, te kwalifiseer. Dit het my drie jaar geneem net om in die lotery te kom, maar ná baie jare se loterye en Covid-19 is dit nou uiteindelik CCC in Augustus.





