Dis nie maklik om jou stempel in ’n andersins mans-oorheersende rol af te druk nie.
Maar die Breedevallei se eerste burger, Antoinette Steyn, doen dit met finesse en styl.
Steyn vertel sy het “tussen treine” op Touwsrivier grootgeword.
“My Pa het op die treine gewerk en tot vandag toe as ek ’n trein of lokomotief sien, lok dit weer vasgevange emosies na vore. Daai tyd het ek eerder verkies om saam met die seuns op die sandduine te speel en hul almal se albasters by hulle gewen.”
Sy herroep haar kinderjare met soveel opgewondenheid wat in haar oë wys – en ’n breë glimlag.
Haar kinderjare het haar ook vir haar toekoms toegerus.
“Ek is baie trots om te sê ons het in de topkamp in Touws gewoon. Daar was geen uitsonderings oor waar in die dorp jy woon nie. En dis ook hoe ek grootgemaak is – om nie ander te oordeel nie. Daar het ek ook geleer van menswees; om vriende te wees met almal en met ander te deel. My ouers het ook altyd uitgereik na ander – nie om gesien te wees nie, maar op eenvoudige maniere.”
Op skool het sy goed gevaar – goed genoeg om aansoek te kon doen om te gaan swot, maar sy het ander idees vir haar lewenspaadjie in gedagte gehad.
“Tydens my hoërskooljare het ek hier [in Worcester] na die handelskool gekom. Ek het goed genoeg geslaag vir my pa om vir my te sê dat ek kan kies of ek vir ’n prokureur of dokter wou gaan studeer. Maar ek was rebels en het besluit om nie ná skool te gaan studeer nie.”
Sy het toe wel die geleentheid gekry om haar eie onderneming te begin.
“Van 1994 tot 2000 het ek en my pa ’n vermaaklikheidsbedryf in Montagu bedryf. Daar het ek weer eens van menswees geleer.”
Op 1 Februarie 2000 het haar lewe onherroeplik verander.
“Ek het toe besluit dis nou tyd om my lewe agtermekaar te kry. Op 1 Februarie gaan ek toe vir ’n onderhoud by die DA vir ’n werksgeleentheid as ’n sekretaresse. Ek het die pos gekry. Neels de Bruin het my daai geleentheid gegee. Ek het ook toe ook as ’n administratiewe beampte gewerk.”
Sy het destyds alles oor die politiek soos ’n spons absorbeer. In 2011 is sy as wyksraadslid asook speaker verkies. Nie lank daarna nie het sy die burgemeesterskap by Basil Kivido oorgeneem, en in 2016 is sy amptelik vir haar eerste termyn as burgemeester verkies.
“Ek het regtig my voete in die lewe by die DA gevind. Die politiek het regtig my huis geword. Deurentyd het ek ook verskeie kursusse gedoen om my kennis te verskerp.
“Aan die begin was dit moeilik om as vrou in hierdie posisie in te stap. Maar ek het geleer as ek ’n goeie leier wou wees, moet ek my nie aan ander se mening steur nie. Ek het nie toegelaat dat mense onder my vel inklim nie. Ek het nie geworry nie. Ek het baie gebid en die Here gevra om my te spaar om hierdie reis klaar te maak – omdat ek omgee en ’n verskil wil maak.”





