Een mens is dood en talle beseer in twee afsonderlike ongelukke Maandagoggend op die N1 buite Worcester – enkele ure uitmekaar.
Volgens Deanna February, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse mediese nooddienste, het die eerste ongeluk om 06:58 gebeur.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die Paarl-polisie het ’n ongeluksverslag geregistreer nadat ’n voertuig Maandag op die N1 naby die Hugenote-tonnel omgeslaan het.
Luidens berigte is nege passasiers, onder andere die bestuurder, na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Hy het geringe beserings opgedoen.
Volgens February is die nooddiensspan in die Kaapse Wynland-distrik ontbied na ’n ongeluk sowat 2 km ná die Du Toit Lodge in die rigting Worcester. Twee reddingsvoertuie, en drie staatsambulanse en vyf private ambulansdienste het op die voorval gereageer.
Tweede ongeluk
Nog ’n motorongeluk het om 08:35 plaasgevind, 10 km buite Worcester.
Volgens Van Wyk is die Rawsonville-polisie Maandag na die ongelukstoneel op die N1-hoofweg tussen die weegbrug en die Ultra City ontbied.
“Een slagoffer het noodlottige beserings opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” sê Van Wyk.
Die Rawsonville-polisie het ’n saak van strafbare manslag vir verdere ondersoek geopen.
February sê twee staatsambulanse, asook drie private ambulanse is na dié ongeluk ontplooi.
“Altesaam ses mense het ernstige beserings opgedoen en ongelukkig het een noodlottige beserings opgedoen. Die oorlewendes is na die Worcester-hospitaal geneem.”
“Ons betuig graag ons innige meegevoel met die familie van die oorledene,” sê February. . Van Wyk versoek enigiemand met inligting oor wat in die oomblikke voor die voorval gebeur het om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.


