Die bekende rapper Early B het saam met die Vereniging vir demensie en Alzheimers van Suid-Afrika (Adasa) en die Wes-Kaapse departement van onderwys die Hoërskool Esselenpark asook die Pionierskool in Worcester besoek om dié leerders oor demensie en Alzheimers in te lig.
Hiérdie besoek is deel van Wêreld- Alzheimersmaand, wat in September gevier word, met 21 September wat boonop internasionale Alzheimersdag is.
Volgens Early B het hy hiérdie Worcesterse skole besoek om die leerders in te lig oor die belangrikheid van kennis en bewusmaking oor demensie en Alzheimers.
Ilse Schürmann van RSG het ook die praatjie bygewoon as deel van dié radiostasie se bewusmaking oor die siekte.
Buiten Worcester was Adasa en RSG ook by skole in Ceres.
“Die opnames wat by daardie skole gemaak is, sal in September as deel van die bewusmakingsveldtog op RSG uitgesaai word,” het Schürmann verduidelik.
Early B se ma, Linda Swartz, is een van die demensie-gemeenskapswerkers in Gqeberha en het ook met die projek gehelp en dus haar seun betrek het om die jongspan oor die siekte in te lig.
“Ons [RSG] poog om hierdie jaar ons bewusmakingsveldtog oor demensie te verskerp en het onder meer besluit om onder die bruin jeug te begin werk sodat die ‘Oupa-en-Oumakinders’, soos hulle in dié gemeenskap bekend staan, kan besef wanneer oupa en ouma dalk snaaks begin optree, hulle waarskynlik siek is,” volgens Schürmann.
“Ons is dankbaar dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement met ons hande gevat het … ons sou nie sonder hul hulp in die skole kon werk nie.”





