E. coli en koliforme bakterieë is onlangs in die drinkwater van Calitzdorp in Kannaland en Matjiesfontein in Laingsburg opgespoor.
In antwoord op ’n skriftelike vraag van die DA het die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering hierdie skok-inligting onthul.
Volgens die Blue Drop Watch-verslag vir drinkwater, wat in Junie deur die Nasionale Departement van Water en Sanitasie gepubliseer is, het die mikrobiologiese nakoming van drinkwater in die Kannaland-munisipaliteit ’n ‘slegte status’ gekry, met 92,31%, terwyl die Laingsburg-munisipaliteit se drinkwater se mikrobiologiese voldoening as ‘swak’ gegradeer is, met ’n telling van 95,65%.
Die swak gehalte van drinkwater in die ICOSA/KIP-geleide Kannaland-munisipaliteit kan toegeskryf word aan verskeie faktore, insluitend ’n gebrek aan tegniese kapasiteit, met kritieke direkteur en waterbeheerder poste wat vakant bly, onvoldoende proaktiewe instandhouding, en ’n tekort aan noodsaaklike chemikalieë vir water behandeling, het Isaac Sileku, Wes-Kaapse woordvoerder oor plaaslike regering, gesê.
Ander potensiële bydraende faktore sluit in rioolafvoer, pypleidingherstelwerk en onvoldoende waterbehandeling.
“Net so kan die swak gehalte van drinkwater in die PA/ANC-geleide Laingsburg-munisipaliteit waarskynlik toegeskryf word aan besoedeling van boorgate, rioolafvoer, pyplynherstelwerk en onvoldoende waterbehandeling,” het Sileku gesê.
In reaksie op hierdie kommerwekkende bevindings het die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering stappe gedoen om die situasie namens hierdie munisipaliteite aan te spreek.
Kannaland-munisipaliteit is van toets-stelle voorsien, en die munisipaliteit is in die proses om die nodige chemikalieë vir waterbehandeling aan te skaf.
“Kannaland het ’n geskiedenis van waterbestuursuitdagings, en die departement van plaaslike regering het by verskeie geleenthede ingegryp om die munisipaliteit by te staan om kwessies wat verband hou met infrastruktuur en dienslewering aan te spreek, soos waterdienste ontwikkelingsplanne en ondersteuningsplanne in 2017 en 2023.
Laingsburg-munisipaliteit het proaktiewe maatreëls getref, insluitend die skoonmaak van die reservoir in Matjiesfontein, rotasie van monsternemingspunte, en die voer van openbare bewusmakingsveldtogte wanneer watergehaltetoetse ’n afname in kwaliteit aandui.
Moniteringsplanne is deur die distriks-munisipale-gesondheidsdienste geïmplementeer, kompleet met kosteberamings, om deurlopende monitering van drinkwater te verseker.
“Die verswakkende toestand van dienslewering in die munisipaliteite van Kannaland en Laingsburg het ’n kritieke vlak bereik, wat ernstige kommer oor die welstand en gesondheid van die plaaslike inwoners wek,” het Sileku gese. “Die situasie het versleg tot ’n mate waar dit nie langer geduld kan word nie, en dit is noodsaaklik dat diegene in leiersposisies binne Kannaland en Laingsburg verantwoordelik gehou word vir die haglike toedrag van sake.
“Basiese dienste, wat fundamenteel is tot die kwaliteit van lewe en die veiligheid van die gemeenskap, het al hoe meer onbetroubaar geword, indien nie heeltemal onbestaande nie.”
• Escherichia coli of E. coli is ’n tipe fekale koliforme bakterieë wat algemeen in die ingewande van diere en mense voorkom. E. coli in water is ’n sterk aanduiding van riool- of diere-afval-besoedeling. Riool en diere-afval kan baie soorte organismes bevat wat siektes veroorsaak.





