Maria Willemse staan moedeloos voor haar huis se ruit wat deur haar dogter uitgegooi is.Foto: Phiwokuhle Mothemela


“Ek gaan deur ’n moeilike tyd, regtigwaar.”

Só sê Maria Willemse van Avianpark.

Standard het met haar gaan gesels nadat ’n Facebook-plasing oor haar kinders se dwelmprobleme groot aandag getrek het.

Twee van hierdie enkelouer se kinders is aan dwelms verslaaf.

“Dit wat ek het, is al wat ek het, want ek werk nie.”

Willemse se 30-jarige dogter is besig om haar ma lelik in te loop.

Volgens Willemse was sy verlede maand in Gqeberha (Port Elizabeth), en toe sy terug kom huis toe, het haar bure gesê haar dogter het by haar huis ingebreek.

“Toe ek my deur oopmaak, was my plek in ’n toestand. Die tikjongens se klere het hier in my huis agtergebly en ek moes dit in swart sakke buite sit.”

Haar dogter het ook haar mikrogolfoond, pantoffels, handsakke, kos, haar tweeling se nuwe klere en haar oorlede ma se beddegoed wat haar ma vir haar agtergelaat het, gevat.

“My dogter het tot haar eie twee kinders se klere gesteel,” voeg sy by.

Sy is nie die enigste kind wat vir Willemse probleme gee nie – haar oudste seun rook ook tik.

Hoewel hy haar nie nou persoonlik besteel het nie, is sy dankbaar dat hy tronk toe is.

“Ek het gebid en gesê: ‘Here, laat hy asseblief iets doen wat hom in die tronk sal laat beland eerder as dat hy nagte ronddwaal.’ Die Here het my gehoor en hy kry toe agt jaar tronkstraf.”

Een van haar tweelingseuns het haar ook op ’n dag aangerand.

“Hy het al my ruite uitgegooi en my huis se dakplate stukkend getrap. Ek kan dit nie vervang nie, want ek werk nie,” sê Willemse emosioneel.

“Ek woon saam met my dogter se twee kinders, en as hulle uit die skool kom, is daar nie brood vir hulle om te eet nie. Ek kry regtig swaar.”

Sy het aan Standard gesê sy is moeg om met haar dogter se sondes te sit.

“Daarom het ek dit na Facebook geneem, om haar te ontbloot.”

Sy het erge kommentaar van Facebook-gebruikers gekry oor haar plasing, maar dit is omdat sy moeg is vir wat haar dogter aan haar doen.

“Iemand het gesê ons moet bid. Ja, ons kan bid, maar as die kind nie wil luister nie, moet sy boet vir haar sondes.”

Sy sê sy het al alles probeer om haar kinders te help, maar hulle wil nie hulp aanvaar nie.

Standard het die Toevlug-rehabilitasiesentrum genader om meer perspektief te kry oor wat ouers van kinders wat aan dwelmverslawing ly, deurgaan.

Theresa Rossouw van die sentrum het aan Standard gesê al Willemse se gevoelens is geldig.

“Soos baie ouers wat in dieselfde situasie is, bevind sy haar in vrees vir die onbekende. Vrees en onsekerheid is algemeen,” sê Rossouw.

In die geval waar die kind met verslawing geen hulp wil hê nie, het Rossouw gesê die ouer kan dan hulp vra.

“Die mees basiese menslike fout wat ouers maak, is dat hulle ophou lewe. Hulle laat hul lewe om hul kind, wat aan dwelms verslaaf is, draai en hulle vergeet om te sosialiseer. Dit is vir hulle belangrik om ondersteuningsgroepe by te woon.”. Lees volgende week meer in Standard oor die pad van ’n Toevlug-vrywilliger wat uit die kloue van tik ontsnap het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article