’n Groot deel van die terrein by Brandvlei is verwoes, insluitend een van die store op die perseel. Foto: Tamsyn Jantjies


’n Man wat daarvan verdink word dat hy betrokke was by brand in Dutoitskloof, is Maandagaand (12 Februarie) in Rawsonville in hegtenis geneem.

Die inhegtenisneming is tydens ’n gesamentlike optrede deur G24, ’n veiligheidsmaatskappy in Rawsonville, die Rawsonville- SAPD en munisipale plaaslike wetstoepassers uitgevoer.

“Die primêre doel van hierdie optrede was om ’n verdagte vas te trek wat vermoedelik verantwoordelik is vir die stig van ’n brand. ’n Moontlike verband met ander brandstigtingsake in die omgewing word ook ondersoek,” het Nico Harmse op G24 se Facebook-blad geskryf.

Volgens Harmse het G24 Maandagaand ’n oproep van die blitspatrollie ontvang vir bystand.

“Hulle het ons gebel vir bystand. Hulle was op die man se spoor, maar hy het hulle ontglip. Ons het toe van ons voertuie asook een van ons brand-voertuie uitgestuur om die brand wat dié man na bewering so 5 km van die weegbrug af begin het, te blus.”

Hulle het die verdagte op pad na die brand gesien.

“Die man het oor die pad aangehardloop gekom terwyl ons voertuig nog op pad was om die brand te gaan blus. Die manne het hom agternagesit. Hy het tussen die motors en vragmotors ingehardloop, maar is uiteindelik ingehaal en in hegtenis geneem,” het Harmse aan Standard & Gazette verduidelik.

Hy skryf verder op Facebook die verdagte is in besit van vuurhoutjies en ander brandstigtingstoebehore betrap.

“Die aanvanklike ondersoek dui op ’n moontlike verband tussen die verdagte en ander onopgeloste brandstigtingsake in die gebied. Die Rawsonville- SAPD sal ’n deeglike ondersoek doen om die omvang van die verdagte se betrokkenheid by hierdie voorvalle vas te stel.”

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik aan watter ander brande die verdagte gekoppel kan word.

Die streek is tydens die afgelope twee weke deur erge brande geteister. Een van die brande het langer as ’n week aaneen gebrand, terwyl die ander groot brand by die Brandvlei-gevangenis ook amper ’n week geduur het voordat dit uiteindelik onder beheer gebring en toe uiteindelik heeltemal geblus is.

In hierdie stadium is dit nog onduidelik hoeveel hektaar tydens die brande verwoes is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article