Bonnievale sal die toneel van een van die grootste skaakkompetisies hierdie jaar wees wanneer die Bonnievale-ope op 21 Oktober met prysgeld van R61 000 in verskillende inskrywingskategorieë by Jakes Gerwel Tegnies aangebied word.
Die skaakkompetisie het ten doel om skaak in die Wes-Kaap, en spesifiek die Boland, te bevorder op ’n manier wat prettig sowel as lonend is, en meer as 400 spelers van reg oor die provinsie word verwag.
Volgens Stefan Pieterse, die organiseerder van die Bonnievale-ope, is die toernooi ’n bewys van wat moontlik is as ’n hele gemeenskap bymekaarkom en hande vat om dit ’n werklikheid te maak. “Almal het iets gegee, hetsy dit fasiliteite, prysgeld of hulp met reëlings was. Dit is veral wonderlik om te sien hoe die plaaslike hoërskole saamwerk,” het Pieterse gesê.
Die toernooi bied ses afdelings (onder 10, 12, 14, intermediêr, gevorderd en kampioenskap) en enige speler wat wil deelneem, kan op dié skakel registreer: https://tinyurl.com/yb7vaj38
Volgens Paul Wilson, hoof- arbiter en registrasie-amptenaar, is meer as 60 pryse in alle kategorieë te wen, en met spesifieke voorsiening vir vroue is hierdie toernooi een van die grootste, en mees winsgewende, skaaktoernooie in Suid-Afrika.


