Personeellede van Mediclinic in Worcester maak kospakkies vir hul jaarlikse inisiatief. Foto: Tamsyn Jantjies


Die personeel van Mediclinic Worcester het verlede week 22 000 maaltye gepak.

Dit was deel van ’n landwye inisiatief tesame met ER24 en Rise Against Hunger ter viering van wêreldvoedseldag, wat op 16 Oktober was. Verskeie personeellede van Mediclinic Worcester het deur die loop van die dag in skofte gewerk om die kospakkies te vul, te verseël en te verpak. Die pakkies bestaan uit rys en soja-maalvleis.

Die pakkies kos is later uitgedeel en volgens ’n verklaring wat Mediclinic oor die dag uitgereik het, het hulle op vroeëkinderontwikkelingsentrums gefokus.

“Ons het hierdie kanaal gekies as ’n tasbare bydrae tot die stryd teen honger in ons land. Rise Against Hunger (RAH) stel ons in staat om te verseker dat voedsame maaltye toeganklik is,” verduidelik Bob Govender, nywerheidsakebestuurder van Mediclinic Suider-Afrika.

Van die 22 000 kospakkies wat die personeel by die plaaslike hospitaal gepak het, is die helfte aan twee organisasies in die gemeenskap oorhandig terwyl die res aan RAH- begunstigdes in die streek sal gaan.

“Die eerste begunstigde wat deur die hospitaal aangewys is, is ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag, Avianpark Gemeenskapsvereniging, en hierdie sambreelorganisasie ondersteun nege sopkombuise en ’n crèche in die gemeenskap. Hul werk dek elke dag tussen 70 en 100 gemeenskapslede en die skenking sal ’n merkwaardige invloed op hul werk hê. Die tweede begunstigde is Roodewal Landelike Ontwikkelingsentrum, onder toesig van die gemeenskapswerker Dandeline Couvares, wat ’n program in Roodewal bedryf, wat tussen 250 en 300 mense op ’n Dinsdag voed en meer as 100 kinders later in die week. Hierdie wonderlike organisasie sonder winsbejag is ook verantwoordelik vir die onderrig van vaardighede aan gemeenskapslede om hulle te help om weer tot diegene rondom hulle by te dra,” lui die verklaring.

Met Standard & Gazette se besoek terwyl die pakkies opgemaak is, was personeellede in ’n goeie luim en almal besig om die vorige skof se totaal te oortref. Die hospitaal sal volgende jaar weer aan hierdie inisiatief deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article