Die sokkerspan View of Hope het ’n baie positiewe begin met die aanbreek van die tweede ronde van beide die promosie- en die superliga gehad.
Die promosieligaspan het 6-0 teen Zwelethemba All Stars gewen, terwyl die superligaspan Ballers 3-2 geklop het.
Die promo-span het Saterdag (9 April) teen All Stars op die Zwelethemba-sportterrein te staan gekom. Die wedstryd het baie stadig begin, veral omdat die spanne ’n naweekbreek van sokker gehad het.
Hope se gewoonlik goeie aangeewerk na mekaar het by tye nie goed gelyk nie, alhoewel hy die wedstryd oorheers het. Hope se doel-vraat Dimitri van Rooi het die bal baie laat in die eerste helfte goed beheer ná ’n goeie aangee van Kaden Pass en die telling 0-1 gemaak nadat hy die doelwagter maklik geklop het. Dit was ook die rustydtelling.
Die druk op All Stars het in die tweede helfte, met Howard Anthony en Bradwin Abrahams nou op die veld, al meer toegeneem. Anthony het sommer vroeg in dié helfte weggebreek en ’n goeie bal uit die doelhoek van die linkerkant van die veld af gestuur, en sy plaasvervanger-spanmaat Abrahams het die doel van die dag met ’n diving header aangeteken nadat die bal voor hom kom sak het. Die telling was 0-2, en met hierdie doel het die damwal behoorlik gebreek – kort daarna het Van Rooi sy tweede doel aangeteken en die telling 0-3 gemaak.
Die afrigter, Lionel Minnaar, het ’n onverwagte skuif gemaak deur Fabian Esterhuizen in die skitterende Jonathan Prins se plek op te bring. Faba was skaars ’n minuut op die veld toe hy die doelwagter met ’n skitterende grass cutter uitoorlê om die telling 0-4 te maak. Anthony het weggebreek en al All Stars se spelers met sy spoed geklop om ook sy naam op die telbord te kry (0-5).
Minnaar het die speler van die dag, Kelvin Butland, met Lobelian Steyn vervang nadat Butland weer amok in die middelveld gemaak het. Steyn het die wedstryd afgerond met ’n doel van die strafmerkie af om die telling op 0-6 te laat eindig. Die afrigter reken dit was sy beste wedstryd ná sy terugkeer na die groen en ougoud.
Die spelers wat gewis ’n regmerkie gekry het, was die twee o.19-spelers Kaden Pass en Tyrique Fourie. Die speler van die wedstryd was Kelvin Butland. Al vier plaasvervangers het in wat seker ’n eerste vir die klub was, elk ’n doel aangeteken.
Superliga
Die superligaspan, wat met die aanbreek van die tweede ronde met ’n klein bietjie meer ervaring begin het, het gewys dat hy besig is om junior sokker te ontgroei, want dié span het ook met akkurate balhantering soos hul ouboetas begin en by tye die toeskouers se oë met avontuurlike sokker gerek.
Enoch Ambraal is vroeg in die eerste helfte weggestuur na die doelhok, en hy het seker gemaak dat Ballers se speler hom moet kop toe vat, want hy het pragtig afgerond met ’n goeie doel om die eerste punte aan te teken (0-1). Ballers, geruk deur die doel, het ook gewys waarom hy as liga-aanspraakmakers begin het, en het die telling 1-1 gemaak. Die spanne het die eerste helfte met 1-1 afgesluit.
In die tweede helfte het Hope meer druk toegepas en sodoende Ballers se verdediging laat vou, want sommer gou het Jaden van der Westhuizen die agterkant van die net getref om die telling 1-2 te maak. Die jongspan het nou met ’n klein voorsprong begin om sy meer ervare teenstanders met sy spoed te jaag, en in een so ’n poging het Hope se spoedvraat Jowaryne September die bal gekry en hakskene gewys om die span se derde doel aan te teken (telling 1-3).
Ballers het goed karakter getoon en ook druk begin toepas, wat meegebring het dat die oorgeruste Hope-verdedigers aan die slaap betrap is en Ballers sy tweede doel aangeteken het (2-3).
Hope, wat deur dié doel geruk is, het hom begin regruk en soos tiere verdedig om sy voorsprong te beskerm. Die wedstryd het baie goeie sokker deur twee baie goeie spanne opgelewer. Die eindtelling was 2-3 vir die besoekers van Riverview. Die afrigtingspan het die speler van die dag-trofee aan Jowaryne September gegee vir sy kanniedood-houding op die veld. Die hele span is geprys vir sy goeie begin in die tweede ronde – voorwaar ’n goeie naweek vir die spanne van Riverview.



