Met amptelik slegs vier liga-wedstryde in die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaagbeker-kompetisie van die Boland Rugbyunie vir die 2024-seisoen nog oor voordat die top-twee-spanne in die liga na die Top-12-uitspeelronde deurdring, is alle oë vierkantig op die drie boonste spanne wat baklei om met die Langeberg-kroon weg te stap, gerig.
Nie net skei ’n skamele vier punte die drie voorlopers – Robertson Town, Worcester Villagers en Young Hamiltons – van mekaar nie, maar is dit ook geen uitgemaakte saak dat enige twee van dié genoemde spanne verseker is van sy plek in hierdie prestige-reeks nie.
Daarby is Montagu Klub ook nog sterk in die prentjie, hoewel hy verlede Saterdag (10 Augustus) naelskraaps met 19-24 op die Van Zylstraat-stadion in Robertson teen die voorlopers, Robertson Town, vasgeval het.
Hierdie naweek (Saterdag 17 Augustus) speel Worcester Villagers, of Villa soos hy alom bekend staan, op sy tuisveld, Bolandpark, teen die agterosse in hierdie mededingende liga, Bonnievale United.
Vir sy bure, Young Hamiltons, of Hammies, wag ’n rillerstryd op die King Edward-stadion in Montagu wanneer hy die omgesukkelde Montagu Klub in ’n wegwedstryd die stryd moet gaan aansê.
Ook hier kan geen genade gevra of gegee word nie, want albei spanne se visier is nou net op die uitspeelronde gerig.
Die wedstryd op die Kogmanskloof-sportterrein in Ashton sal ook groot belangstelling wek, aangesien die voorlopers, Robertson Town, gewis nie die tuisspan, Ashton United, of Unies, durf onderskat nie.
Die tuisspan Swellendam ontvang Saterdag besoek van Villagers Montagu, of Sesduim, terwyl Rangers Robertson besoek van die Valleiers Proteas, of Prouks, ontvang.
Die ander Bonnievale-span, Blue Birds, ontvang op sy beurt besoek van die nuwelinge Rawsonville United, of Rawsies.
Met die seisoen wat nou vinnig einde se kant toe staan, dui alles daarop dat aanhangers komende Saterdag weer na ’n dag van opwindende klubrugby hier in ons streek kan uitsien, en daar behoort weer met groot verwagting uitgesien te kan word na fynproewersrugby wat in ’n ieder en ’n elk se smaak behoort te val.



