Worcester Villagers (Villa) het die afgelope Saterdag (19 Augustus) op die Esselenpark-stadion in Worcester vir Worcester Perseverance (Persies) met 22-17 verslaan nadat die telling teen rustyd nog gelykop met 10 punte elk was.
Villa het sommer reg van die begin van die wedstryd af sy stempel met doelgerigtheid op die wedstryd probeer afdwing, en Persies het met skitterende keerwerk menige aanslae met sukses afgeweer.
Eers is Cubitt Micheals (Villa se linkervleuel) ná ’n puik lopie enkele tree van die doellyn gestuit en kort daarna is Shandro Issel (binnesenter) ook kort voor die lyn platgetrek.
Villa het egter wel punte gekry toe Edward Haas (agsteman) ná volgehoue druk met brute krag oorgebars het vir ’n drie wat Girshwin Joubert (losskakel) verdoel het vir ’n 7-0 voorsprong in Villa se guns. Die telling het aanhou groei na 10-0 toe Joubert ná ’n skrumoortreding met ’n strafskop slaag.
Daarna het Persies sy eerste punte gekry toe die oud-Villaspeler en Persies se losskakel, Nazeem de Sousa, met ’n strafskop sukses behaal.
Die telling het teen rustyd na 10 punte elk gegroei toe Jubelian Titus (Persies se agsteman) oor id vir ’n drie wat De Sousa verdoel het.
Kort ná rustyd het Villa se woelwater-flank Mario Marinus ná volgehoue druk ’n drie gedruk, wat Joubert verdoel het om die span se voorsprong na 17-10 te rek.
Nou in volle beheer, het Villa weer punte gekry toe Romeo Eksteen (skrumskakel) slim steelkant om gebreek en die heelagter Jarian de Klerk gevoer het. Toe hy voorgekeer is, het hy die bal vorentoe geskop, wat Eksteen in die doelgebied toegeval het, maar die doelskop het links verby getrek.
Persies het egter nooit bes gegee nie en is met ’n sewepunter beloon toe Winston Ryneveldt (stut) gedruk het, wat De Sousa verdoel het om die eindtelling op 22-17 te staan te bring.
Vir Villa het Eksteen weer ’n puik wedstryd gehad, terwyl Haas en Marinus as losvoorspelers behoorlik hul kant gebring het. Vir Persies was die buitesenter Brendon Doring ’n doring in Villa se vlees, terwyl Kirwin Norman (slot) toegesien het dat Persies genoeg balle in die lynstane kry.

