Leerders het veral die vertonings van die dag geniet.Foto’s: JP Myburg


HTS Drostdy het onlangs sy 120ste bestaansjaar op ’n gepaste wyse gevier.

Op Vrydag 10 Februarie het die skool, tesame met talle borge en belanghebbendes, die Donkiefees aangebied op die skool se sportterrein.

Oud en jonk het hierdie feesvieringe bygewoon en na van die beste plaaslike kunstenaars, sportsterre en bekendes geluister.

Jaco van Dyk van Woes het as seremoniemeester opgetree en by die geleentheid met oudleerders en -personeel gepraat oor hul liefde en herinneringe aan HTS Drostdy. Die skool se oudskolier Christie Grobbelaar, ’n 7’s-rugbyspeler, het ook ’n draai op die verhoog gemaak en was verras deur ’n spesiale videoboodskap van die rugbyheld Naas Botha.

Die feestelikhede het talle kunstenaars ingesluit wat onder andere Worcester- gunstelinge Rio Bezuidenhout en Michael Meiring ingesluit het.

“Dit is lekker om plaaslik te kan optree. Ons tree baie in die Kaap op, maar sien uit na ’n ander atmosfeer vanaand,” het dié duo voor hul optrede gesê.

Tino, ’n bekende kunstenaar wat op sosiale media opslae maak en ’n boorling is van Swellendam, het ook die skare behoorlik vermaak.

“Ek is nog nuut in die bedryf en leer nog baie. Ek het gereeld by Drostdy kom deelneem aan sport en nou is ek op die verhoog. Dis opwindend,” sê Tino.

Barto, die sanger van treffers soos “Impulsief” en “H2Oë”, het ook die skare met sang vermaak en almal was op hul voete toe hy dié treffers gesing het.

“Dis my eerste keer in Worcester en die gees is aansteeklik. Ek sal beslis weer terugkom. My ondersteuners kan ’n verrassing later vanjaar verwag en hopelik kan ek dan sommer vinnig weer in Worcester kom draai.”

Tino en Barto vertel albei dat hulle opkyk na kunstenaars soos Jan Blohm en Spoegwolf en dit was vir albei van hulle ’n voorreg om die verhoog te kon opwarm vir die Donkiefees se laaste vertoning deur die bekende alternatiewe groep, Spoegwolf.

Spoegwolf bestaan uit vier lede, almal van die Paarl en maak al saam musiek van skooltyd af. Hulle het reeds in 2011 begin naam maak met treffers soos “Lenie Blou” en “Bittermaan”. Daarna het hulle al derduisende albums verkoop, miljoene luisteraars op stroomdienste bereik en die wêreld platgetoer. Hulle gaan vanjaar weer Amsterdam en Londen besoek vir ’n toer en is nou al internasionaal bekend.

“Dit bly vir ons ’n voorreg. Ons is basies bure van Worcester en het nog nooit hier opgetree nie. Dit is ’n voorreg en beslis nie die laaste maal nie. Die gees vanaand was uitsonderlik,” het die hoofsanger en liedjieskrywer van die groep, Danie du Toit, aan Standard gesê.

Hulle het onlangs ’n nuwe album uitgereik, maar vertel eksklusief aan Standard dat hulle reeds aan die volgende een werk. “Ons wil baie graag saam met die hip-hop-kunstenaar Kwesta werk. Ons hou duime vas.”

Besoekers vertel aan Standard dat hierdie vertoning vir hulle fantasties was.

“Dit gebeur nie altyd in Worcester nie en vanaand was net wonderlik. Baie geluk aan HTS Drostdy. Op nog 120 jaar,” het Michelle Visagie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article