Die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy se 480 kg-meisies- en 600 kg-seunstoutrekspan het onlangs aan die Junior Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskap in Swellendam deelgeneem.
Daarby is die 480 kg-meisies ook vir die Suid-Afrikaanse sporttoekennings genomineer.
Vanjaar is die 16de Suid-Afrikaanse sporttoekennings by Sun City aangebied, en dié span is genomineer vir die skolesportspan van die jaar-kategorie.
Volgens Morné Visser, afrigter van Drostdy se toutrekspanne, het die span nie gewen nie, maar dis steeds ’n groot eer om uitgenooi te word.
Hierdie span is genomineer vanweë sy prestasie by 2022 se wêreldtoutrekkampioenskap in Nederland, waar die 480 kg-span aangewys is as wêreldkampioen en goud gewen het.
By die junior Suid-Afrikaanse toutrekkampioenskap het die 600 kg-seunsspan eerste plek behaal, en die 480 kg-meisiespan sesde plek.
Visser is die skool se hooftoutrekafriger, en verduidelik dat hulle vier keer per week vir drie en ’n half uur op ’n slag oefen.
Hierdie oefenprogram sluit in fiksheidsoefeninge soos byvoorbeeld tyreflips en ander gewigsoefeninge, asook kardiowerk en natuurlik toutrek.
Visser het ook telefonies aan Standard vertel dat altesaam 88 leerders van HTS Drostdy na Swellendam gereis het vir die kampioenskap, waar 338 spanne van skole oor die land heen meegeding het.
Buiten die goeie prestasies van die 600 kg-seuns- en 480 kg-meisiepanne, het die 400 kg- en 440 kg-seunsspan vierde plek behaal.
Die 440 kg-meisiespan en 480 kg-seunsspan was sesde.
Verder het die 520 kg-seuns sesde plek behaal, die 520 kg-meisies agste plek, en die 520 kg- gemengde span het gepronk met derde plek. Die 560 kg-seuns het tweede plek behaal.





