’n Man van De Doorns wat sy slagoffer met ’n skêr doodgesteek het terwyl hy onder die invloed van alkohol was, is aan moord skuldig bevind.

Willem Matthews het skuld op die aanklag erken. Tydens sy pleitverduideliking aan die hof het hy aangedui alkohol het ’n rol in die moord gespeel.

Die voorval het in 2019 in De Doorns plaasgevind. Matthews het die oorledene, Willem Kammies (43), met ’n skêr doodgesteek.

Tydens vonnisoplegging het die staatsaanklaer, Agatha Atkins-du Plessis, aan die hof voorgehou dat die gebruik van alkohol tydens die sinnelose misdryf as strafverswarend geag moet word.

Streeklanddros Clifton Maseti het Matthews tot tien jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Die hof het bevind daar was geen wesenlike en dwingende omstandighede om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article