’n Driejarige meisietjie is in ’n tweede grusame geslagsgebaseerde aanval in De Doorns verkrag en later toegedraai en vasgebind in ’n sloot langs die N1 gevind.
Die meisietjie is Maandagmiddag om 14:00 laas gesien en is later die dag deur haar ma by die polisiekantoor as vermis aangemeld.
“ ’n Soekgeselskap het die aand na die meisie gesoek, maar hul pogings was tevergeefs,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
’n Verbyganger het Dinsdagoggend vroeg op die meisie, wat nog gelewe het, in ’n sloot afgekom.
“Sy was in ’n mat toegedraai, haar gesig was met ’n kombers toegegooi en ’n tou was om haar nek vasgemaak. Dit blyk sy het ook ’n hou teen die oor en een oog gekry, want toe sy gevind is, was dit blou. Sy is verkrag. Die vermoede is dat sy daar vir dood gelos is,” het die woordvoerder gesê.
Volgens ’n familielid van die meisie het sy Maandagoggend heeltyd buite by haar maats gespeel.
“Later het ons besef sy is nie meer by haar maats nie. Ons het na haar begin soek, maar kon haar nêrens opspoor nie. Ons het later polisiekantoor toe gegaan en hulle het vir ’n ruk saam gesoek en haar naam oor luidsprekers geroep,” vertel die familielid.
Die gemeenskap het deur die nag gesoek.
“Dinsdagoggend het verbygangers iets onder ’n kombers langs die N1 opgemerk. Die kombers het gebewe en hulle het geskrik. Hulle het toe ’n klein klippie na die kombers gegooi en nadere ondersoek ingestel. Toe hulle sien dis sy, het hulle om hulp geroep.”
’n Kombers oor haar kop was met ’n tou om haar nek vasgemaak. Sy was kaal en haar klere is naby haar onder ’n klip gevind.
Die polisie het bevestig sy is verkrag en in die gesig geslaan. Die familielid sê die meisietjie het niks gepraat nadat sy gevind is nie.
“Sy het net gesit en voor haar gestaar.”
Sy noem ook dat die meisietjie nie normaalweg saam met ’n vreemdeling sal loop nie.
“Sy sou net saam met iemand loop wat sy ken. Sy loop nie saam met mense wat sy nie ken nie en maak gewoonlik alarm wanneer iemand iets snaaks wil doen. Watter soort hartelose mens doen so iets aan so ’n klein meisietjie?”
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


