LAINGSBURG – Drie mans van onderskeidelik 22, 25 en 29 jaar is op Donderdag 15 Augustus deur die Laingsburg-polisie in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en handel in dwelms.
Die polisiebeamptes het gereageer op inligting oor die bestuurder van ’n afleweringsvoertuig wat roekeloos op die N1 gery het. Die beamptes het ongeveer 11 km uit die dorp gery waar hulle die voertuig gevind en voorgekeer het. Hulle het die vraggedeelte inspekteer en beslag gelêop 15 bondels koperkabels waarvoor die bestuurder nie verantwoording kon doen nie.
Dit het gelei tot die inhegtenisneming van twee mans van 22 en 25 jaar op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
In ’n onverwante voorval was die beamptes besig met stop-en-deursoek-optredes toe hulle inligting ontvang het oor ’n geïdentifiseerde man wat dwelms aan minderjariges verkoop.
Die polisiebeamptes het byeengekom, die inligting opgevolg en omstreeks 21:00 ’n geïdentifiseerde perseel in 8ste Laan in Goldnerville genader.
Toe hulle die perseel binnekom, het hulle die verdagte op heter daad betrap terwyl hy dwelms verkoop.
Hulle het die 29-jarige man op ’n aanklag van handel in dwelms in hegtenis geneem.


