Die N1 tussen De Doorns en Touwsrivier is verlede Woensdag (24 Julie) vir ure gesluit nadat drie vragmotors ná ’n botsing in vlamme omhul is en dit die lewe van drie mense geëis het.
Die botsing het omstreeks 19:35 naby die Montagu-afdraai plaasgevind.
“Twee van die trokke wat in die voorval betrokke was, het in die rigting van De Doorns gery. Die een trok het toe ’n ander verbygesteek, toe bots hy teen ’n aankomende trok. Beide daardie trokke het toe teen die trok wat verbygesteek is, gebots,” het ’n woordvoerder van die Touwsrivier-polisie gesê.
Al drie trokke het in vlamme uitgebars.
“Die bestuurder van die trok waarteen die ander twee gebots het, het daarin geslaag om ongedeerd uit sy trok te spring voordat die vlamme hom kon verswelg. Die bestuurder en sy passasier van die trok wat die eerste trok verbygesteek het, het albei onherkenbaar verband.”
Die bestuurder van die derde vragmotor het dieselfde lot gely.
Dit is in hierdie stadium nog onbekend watter soort vrag die vragmotors vervoer het. Nooddienste het deur die nag gewerk om die toneel op te ruim. Teen Donderdagoggend was die baan in die rigting van Worcester oop vir verkeer, terwyl die res van die verkeer via Ceres herlei is.





