Drie polisiebeamptes en twee voormalige polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is weens klagte van inbraak, aanranding en intimidasie, het onlangs weer in die hof in Wolseley verskyn, en is almal nou vrygelaat.
Dit blyk nou dat hulle dalk verkeerdelik aangehou is.
Dit volg nadat twee van die beskuldigdes, Byrone Williams (26) en Heinrich Hendricks (38), in September al op waarskuwing vrygelaat is en Ricardo Conradie (39) by dieselfde hofsitting (Donderdag 8 September) op borgtog van R2 000 vrygelaat is.
Cashwin Visagie (29) en Wayne Boer (44) het egter eers in aanhouding gebly nadat hul borgtogaansoeke ’n paar keer uitgestel is.
Visagie, Conradie en Williams staan tereg op ’n aanklag van huisbraak met die opset om aan te rand. Boer staan tereg op ’n aanklag van intimidasie en een van korrupsie. Hendricks is van regsverydeling aangekla.
Boonop blyk dit Boer en Conradie staan ook in Tulbagh op ’n aanklag van korrupsie tereg. Dit is nog nie bekend waaruit dié twee se Tulbagh-aanklagte spruit nie.
Luidens die klagstaat het Visagie, Conradie en Williams op 20 Julie vanjaar ’n eiendom in Wolseley betree en ’n vrou rondgestamp en op haar gevloek.
Op dieselfde dag is Hendricks na bewering saam met Boer na dieselfde eiendom waar die eerste voorval plaasgevind het en is die bewoners gemaan om nie ’n klagte in te dien nie. Boer het die mense na bewering die volgende dag R3 000 as omkoopgeld aangebied.
Dit is nog nie duidelik waaroor die geskil by die eiendom gehandel het nie.
Standard het die betrokke adres besoek, maar kon niemand wat by die saak betrokke is bereik nie.
Die beskuldigdes het Vrydag 28 Oktober weer in die hof in Wolseley verskyn. Volgens ’n bron na aan die ondersoek blyk dit dat die verdagtes verkeerdelik aangehou is en dat ’n ondersoek van stapel gestuur is om dit te bepaal.
Standard het navrae aan die hof sowel as die staatsaanklaer gerig. Die Wolseley-hof het nie op verdere navrae gereageer nie.
Die staatsaanklaer, Johnson Laverne, het aan Standard gesê hy was nie self by die onlangse hofverrigtinge nie, maar weet nie van die moontlikheid dat hulle verkeerdelik aangehou kon wees nie.
“Ek is nie seker hoe hierdie inligting onder u aandag gebring is nie,” het Laverne aan Standard gesê.
Familielede en vriende van die beskuldigdes het die hofbanke tydens die onderskeie hofsittings volgepak. Hulle het buite die hof aangevoer dat iets nie pluis is nie en dat die beskuldigdes verkeerdelik van hierdie misdrywe beskuldig word.
Standard het van die vertroulike bron verneem die klaer in die saak het voorheen met van die beamptes ’n geskil gehad, wat spruit uit klagtes teen die klaer.
Die beskuldigdes sal op 15 November weer in die hof verskyn.


