Die toneel waarin ses mense Vrydag op die R43 buite Villiersdorp dood is.Foto’s: One-Way Towing


Drie grusame ongelukke het verlede naweek die lewe van 24 mense geëis.

Vrydag is ’n familie van ses in ’n ongeluk op die R43 buite Villiersdorp uitgewis. Drie voertuie was in dié botsing betrokke.

Twee insittendes van een van die voertuie is weens hul beserings hospitaal toe geneem.

’n Bus het Saterdag net ná 18:00 teen ’n vragmotor gebots. Dit het gelei tot die dood van 13 mense.

Dié botsing het op die Hexrivierpas by De Doorns gebeur.

Volgens Priority Care- ambulansdienste moes al 13 oorledenes met behulp van meganiese kake uitgesny word.

“Voorlopige verslae dui daarop dat die bestuurder van die bus beheer verloor en teen ’n vragmotor gebots het voordat hy in die rotswand van die pas vasgery het. Die bus, met 60 passasiers, was op pad na Kaapstad,” lui ’n verklaring deur Ricardo MacKenzie, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit.

Volgens ’n bron was die bus vol Zimbabwiese passasiers. Volgens ’n Facebook-blad, Dei-Sta Funeral & Services Zimbabwe, was die bus van Zimbabwe na Kaapstad onderweg.

MacKenzie smeek padverbruikers om veilig te wees en behoorlik voor te berei vir lang reise.

“Dit was ’n tragiese naweek op ons paaie en my hart gaan uit na diegene wat die trauma van die verlies van hul geliefdes hanteer. Ek smeek almal wat op ons paaie reis om versigtig te wees, veilig te wees en die wet te gehoorsaam. Terwyl ons gereed maak vir Paasfees, maak asseblief seker dat jy behoorlik voorberei vir langafstandreise. Maak seker dat jou voertuig padwaardig is, kry genoeg rus, sit jou gordel aan, moenie drink en bestuur nie en moenie jaag nie. Ten slotte wil ek al die manne en vroue wat opofferings maak en onvermoeid werk om mense in ons provinsie veilig te hou, bedank.”

In Laingsburg is vyf mense se lewens Saterdag in ’n ongeluk kortgeknip. Volgens inligting was ’n bus ook by hierdie botsing betrokke, asook ’n motor en ’n bakkie. Die botsing het sowat 20 km buite Laingsburg in die rigting na Johannesburg plaasgevind. Al 35 insittendes in die bus was ongedeerd.

“Die bakkie het drie insittendes gehad. Een is dood, een is ernstig beseer en die derde het ligte beserings opgedoen. Vier mense in die motor is ook dood,” het ’n bron gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article