Drie afsonderlike ongelukke het Maandagoggend op verskeie plekke rondom Worcester gebeur.
Die eerste ongeluk het om 06:50 by Overhex op die Robertsonpad gebeur.
“Twee voertuie, ’n taxi en ’n bakkie was by die ongeluk betrokke. Niemand is ernstig beseer nie, maar verskeie mense het ligte beserings opgedoen,” het AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, gesê.
Om 07:20 het ’n ongeluk tussen ’n motor en ’n fiets plaasgevind. “Die ongeluk het op die Overhexpad naby die Esperance-plaas gebeur. ’n Fietsryer is deur ’n motor getref. Die fietsryer het ligte beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem.”
Die derde ongeluk het om 09:10 plaasgevind. ’n Polisievoertuig, ’n Nissan Hardbody-bakkie, het teen nog ’n voertuig gebots. “Volgens die polisie op die toneel was die bestuurder van ’n wit Ford Bantam-bakkie besig om ’n draai van die Villiersdorp-pad af na Noblestraat te maak toe die bestuurder van die wit Nissan Hardbody hom wou verbysteek.”
Die polisievoertuig het egter in die proses teen die Ford Bantam-bakkie gebots en op sy sy beland. Dit is egter onduidelik of enige van die insittendes in die ongeluk beseer is.
Die baan was vir ’n hele ruk toe weens die ongeluk.
’n Saak van roekelose en nalatige bestuur word in al drie gevalle ondersoek.


