Drie mense is die afgelope weke in drie afsonderlike voorvalle in die Breedevallei vermoor.
Twee van die voorvalle het op dieselfde dag, ure ná mekaar, in Avianpark plaasgevind.
“In die eerste voorval het polisiebeamptes die liggaam van ’n man in Glasogiestraat ontdek nadat hulle om 03:35 ontbied is. Met hul aankoms op die toneel het hulle die lyk van die 20-jarige Sigidi Vice gekry. Hy het een steekwond aan sy nek gehad,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Volgens haar het die polisie geen ooggetuies opgespoor nie.
“Dit is ook in hierdie stadium nog onduidelik waar die oorledene vandaan gekom het, of waarheen hy op pad was. Ons weet ook nie wat tot sy moord gelei het nie.”
Die tweede voorval het om 11:50 op die hoek van Glasogiestraat en Kalkoenstraat plaasgevind.
“Die oorledene, ’n 21-jarige man, het op die hoek van die twee strate gestaan, terwyl ses ander mans op die oorkantse hoek gestaan het.
“Skielik het een van die ses mans ’n vuurwapen uitgeruk en vier skote na die oorledene afgevuur.
“Hy is noodlottig getref en het op die toneel aan sy skietwonde beswyk. Die skietery is bendeverwant en die skieter is kort ná die voorval in hegtenis geneem,” het Jacobs gesê.
Die polisie soek ook enigiemand wat inligting kan bied oor ’n lyk wat op 27 Mei in Zwelethemba gevind is.
“’n Verbyganger het die man se lyk sien lê toe sy op pad huis toe was. Hy het verskeie steekwonde aan sy liggaam gehad. In hierdie stadium het nog geen ooggetuies na vore gekom nie en die verdagte is steeds onbekend.”
Jacobs vra dat enigeen met inligting oor die saak die polisiekantoor by 023 348 8600 kontak.


