Dit gons omtrent oor ’n beweerde seksuele aanranding by ’n plaaslike hoërskool.

Volgens die onderwysdepartement het die voorval op Woensdag 19 April plaasgevind.

“Drie leerders, van wie twee gr. 8-leerders en een ’n gr. 10-leerder is, is teen hul sin deur ’n groep ander leerders aangehou, wat hulle na bewering aan aanranding en seksuele wangedrag skuldig gemaak het.”

Verslae dui daarop dat die leerders almal van graad 9 tot 11 wissel. Die vermeende slagoffers het daarin geslaag om weg te kom en die voorval is aangemeld.

“Die skool het die saak by die betrokke owerhede aangemeld. Die vermeende oortreders is geïdentifiseer en hul ouers is gekontak. Die skool neem tugstappe in ooreenstemming met die gedragskode,” sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

Sy sê traumabehandeling is beskikbaar vir die leerders wat teen hul sin aangehou is.

Volgens ’n betroubare bron het die drie leerders ander leerders gevra om orale seks op hulle uit te voer.

“Toe die kinders weier, het die drie hulle probeer dwing om dit te doen,” verduidelik die bron.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval om 12:15 gebeur toe die slagoffers deur die verdagtes genader is.

“Dit was tweede pouse by die skool toe hulle deur die verdagtes genader is. Een van die verdagtes het ’n klip na die klaers gegooi en hulle gedreig.

“Die verdagtes het toe die klaers na die koshuis-gebied op die skoolterrein geneem, waarna ander verdagtes ook daar aangekom het. Hulle wou toe met kleurpotlode bende-tekens op die klaer en sy vriende skryf. Die seuns het geweier, waarna die verdagtes hulle almal na ’n stoorkamer geneem het.

“Daar wou die verdagtes glo gebrande glas gebruik om op hulle te skryf, maar hulle het weer geweier.

“Die verdagtes het toe probeer om hul geslagsdele in die slagoffers se monde te dwing, maar hulle het nie daarin geslaag nie. ’n Saak van seksuele aanranding is geopen en al drie verdagtes is in hegtenis geneem,” het Jacobs verduidelik.

Ingevolge die wetlike definisie val hierdie voorval onder verkragting en dit sal op daardie wyse hanteer word. Die drie beskuldigdes – twee 17-jariges en ’n 16-jarige – het Dinsdag (2 Mei) in die hof verskyn.

Die drie staan tereg op aanklagte van die oortreding van die wet op seksuele misdrywe asook blootstelling van ’n minderjarige aan ’n seksuele misdryf, asook aanklagte van aanranding.

Die ondersoek duur in hierdie stadium voort.

Die beskuldigdes moet Dinsdag 4 Julie weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article