Die tradisie om jaarliks ’n handjievol bedryfsleiers te vereer, is Saterdag (12 Oktober) by vanjaar se 34ste Veritas-toekennings-plegtigheid – jare lank al bekend as die “Oscars” van die wynbedryf – voortgesit. Hierdie prysuitdeling, wat in 2009 deur die Veritas-wynkompetisie ingestel is, dien as erkenning vir uitnemende diens aan die bedryf oor die jare en eer die ontvangers se toegewydheid en hul merkwaardige prestasies.
Sodoende het drie uitblinkers die 2024-Legendes-ererol vir hul toewyding aan en geesdrif en passie vir die plaaslike wyn- en brandewyn-bedrywe ontvang.
PHILIP JORDAAN
Philip Jordaan het by Boishaai in die Paarl gematrikuleer en in 1979 ’n diploma in keldertegnologie van die Elsenburg-kollege ontvang. Ná sy studies het hy vir drie oesseisoene by Rooiberg Wynkelder onder toesig van die bekende voormalige keldermeester Dassie Smit gewerk.
Hy is in 1983 as wynmaker en bestuurder van Du Toitskloof Wynkelder naby Rawsonville aangestel. Daar het hy sy voetspoor as een van die beste wynmakers van sy tyd gelaat. Hy het vir 27 jaar by Du Toitskloof gewerk, waartydens hy talle toekennings in ’n uitdagende wynbedryf verower het.
Hy is twee keer aangewys as Breedekloof/Worcester se Wynmaker van die Jaar – in 1995 en in 2001.
Een van Philip se grootste prestasies was dat hy daarin geslaag het om Du Toitskloof van ’n stortmaat-wynkelder na een van die toonaangewende rolspelers in die bottelwyn-segment om te skep, met verskeie bekroonde wyne. Onder Philip se leierskap het Du Toitskloof Sauvignon Blanc destyds die mees verkoopte wyn van ’n enkele produsent geword.
Hy het daarin geslaag om die persepsie van “bokswyn” te verander deur kultivar-spesifieke wyne in drieliter-verpakkings aan te bied. Hy was by Du Toitskloof ook die eerste produsent om Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Cabernet/Shiraz as kultivars in drieliter-bokse te verpak.
Du Toitskloof is onder sy toesig vir vyf jaar agtereenvolgens as Wine Magazine se Beste Waarde-kelder aangewys.
Hy maak sedert 2004 sy eie wyn, ’n cabernet franc, wat vir drie jaar op ’n ry, in 1998 tot 2000, die toekennings as Beste ongewone rooiwyn by die Wine of the Month-klub ontvang het. Sy cabernet franc is verskeie kere vir die Nederburg- veiling gekeur en is in September 2010 vir R120 per bottel opgeveil.
Hy het vir baie jare in die proepanele van Veritas en die Wyn- en spiritusraad van Suid-Afrika gedien.
TIM HUTCHINSON
Tim se loopbaan het 39 jaar gelede begin toe hy by Douglas Green of Paarl aangesluit het. In 1990 is hy aangestel as uitvoerende hoof met die vorming van DGB deur die samesmelting van Uniewyn (Bellingham) en Douglas Green. In 1999 het Tim die bestuurs-uitkoop van DGB aangevoer, met Graham Beck wat ’n 20%- aandeelhouding behou het.
Daarmee, as ’n hoof-aandeelhouer in die onderneming, het Tim se merkwaardige reis momentum gekry. Ná die uitbreiding van produksiefasiliteite in Wellington in 2000 met die oprig van ’n nuwe topklas wynmakery vir Bellingham in 2002, het DGB se verkryging van Boschendal in 2005 gevolg – ’n mylpaal wat DGB ’n ikoniese Kaapse wynhandelsmerk gegee het om by sy portefeulje te voeg. Verdere verkrygings en ontwikkeling van noemenswaardige wynmakerye soos Franschhoek Cellars, Brampton, Old Road Wine Company, Fryers Cove, Backsberg en nou Avontuur het DGB se teenwoordigheid verder as ’n leier in die premium sektor versterk.
Deur hierdie jare was Tim sterk van mening dat uitvoersukses ’n permanente teenwoordigheid in sleutelmarkte vereis; dus is bemarkings- en verkoopskantore vir DGB in die VK, Holland, Duitsland, Kanada, die VSA, Hongkong, China en Doebai gevestig.
Plaaslik was Tim se visie om ’n doeltreffende verspreidingsroete na die mark te bied, ondersteun deur ’n nasionale verkoopsnetwerk gefokus op die bou van die DGB-portefeulje. Hy het geglo dat die belegging in optimale bronne en strukture net so belangrik is as dié in voortreflike wingerde en wynmakerye.
Tim se ontwikkeling van DGB weerspieël ’n enorme verbintenis tot die omgewing en internasionaal erkende gehalte-akkreditasies. So vroeg as in 2001 het DGB veelvuldige internasionale akkreditasies vir gehalte ontvang. DGB is vandag die enigste drankonderneming in Suid-Afrika wat met die “Groot Vyf”- gehalte-akkreditasies pronk en beskik oor die grootste sonkrag-installasie in die Kaapse Wynland. Backsberg was die eerste ten volle geverifieerde koolstof-neutrale wynmakery in Suid-Afrika en al sy wyne is IPW- en WIETA- gesertifiseerd.
Onder Tim se leierskap het DGB in wingerde in verskeie van die Kaap se mees gesogte wingerdbougebiede soos Elgin, die Helderberg, die Koo-plato en Bamboesbaai aan die Weskus, belê. DGB werk deesdae met 317 verskillende wingerdblokke en is die grootste produsent van Gesertifiseerde Erfeniswingerde.
DGB is tans in die Helderberg besig met die vervanging van 130 hektaar virus-besmette wingerde, wat hul verbintenis tot die produksie van wêreldklas wyn bevestig. Hierdie sterk inisiatiewe onderskryf DGB se premiumwyn ambisies en vorm deel van die visie gedryf deur Tim Hutchinson.
Sy prestasies het ’n onuitwisbare indruk op ons wynbedryf gemaak.
DR. JOHANN RUPERT
Johann Rupert het in Stellenbosch grootgeword, waar hy by Paul Roos gematrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch in ekonomie en maatskappyreg gestudeer het. Ná drie jaar se studie het hy ’n loopbaan in beleggingsbankwese in New York gevolg.
Hy het in 1979 na Suid-Afrika teruggekeer en Rand Merchant Bank (Rand Aksepbank) gestig, wat hy tot 1984 aangevoer het. Daarna het hy hoof van die Rembrandt-groep geword en in 1988 Compagnie Financière Richemont gevestig – ’n Switsers-gebaseerde luuksegroep waarvan hy vandag die voorsitter is. Hy beklee ook senior posisies in verskeie ander ondernemings.
Johann het regdeur sy loopbaan vele toekennings en onderskeidings ontvang. Hy is drie keer aangewys as Mees invloedryke leier in Suid-Afrika, etlike kere as Sakeleier van die Jaar, asook deur die World Economic Forum in 1992 as een van die Globale leiers van die Toekoms.
Hy het ere-doktorsgrade van die Universiteit Stellenbosch, Nelson Mandela Universiteit en St. Andrews Universiteit agter sy naam. In 2009 het hy die Universiteit van die Witwatersrand se toekenning vir bestuurs-uitnemendheid ontvang en is aangewys as kanselier van die Universiteit Stellenbosch.
As voorsitter en die grootste aandeelhouer van Richemont, die wêreld se derde grootste luukseware-maatskappy, het hy homself gevestig as een van die mees invloedryke figure in die globale luukshede-mark.
Johann se internasionale sakeloopbaan het hom egter nie weerhou van ’n diepgaande belang in die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. Die destydse Distillers Korporasie is deur sy pa, dr. Anton Rupert, begin en Johann was oor die jare goed vertroud met die wynbesigheid. Hy het vir langer as 30 jaar ’n enorme rol agter die skerms gespeel om die wynbedryf te lei en te inspireer om groter hoogtes te bereik.
Hy het die instituut vir wingerdbou en wynkunde met die Universiteit Stellenbosch gestig en die geld vir die vestiging daarvan vir vyf jaar voorsien. Hierdie uiters belangrike liggaam se hoofdoelwit is om langtermyn-navorsing te koördineer en Johann streef om die wynbedryf op die voorfront van navorsing in Suid-Afrika te sien – navorsing wat daarop gemik is om die bedryf se internasionale status te laat groei tot ’n wêreldklasprodusent van gehaltewyne.
Die Rupert-stigting is bekend vir die voorsiening van beurse vir studente om wingerd- en wynbou te studeer en te verseker dat genoegsame jongmense by die wynbedryf aansluit. Die stigting verseker dat leerders met goeie matriek-uitslae en passie die geleentheid kry om by Elsenburg Landboukollege of die Universiteit Stellenbosch te studeer.
Johann se belegging in sy wynplaas L’Ormarins in Franschhoek, sowel as in ander wingerdbougebiede, bevestig sy passie om voortreflike wyn van die beste wingerde in sy strewe vir uitnemendheid te maak. Hy was ook die eerste wingerdbouer om die “stok-by-paaltjie” plantmetode op groot skaal op die meeste van die plase in die groep aan te wend, met besonderse sukses in die skepping van hoëgehalte-wyn.
Hy was instrumenteel in die instel van die Old Vine-projek in 2007, met sy geldelike ondersteuning oor tien jaar om dit van die grond af te kry. Dít het tot sy besluit gelei om in 2007 en 2008 43 jaar oue Chenin Blanc-bosstokke van Perdeberg by L’Ormarins te verplant. Hierdie wingerdstokke is nou 61 jaar oud en vorm die bron van ’n besonderse wyn – ’n eerste in die wêreld van wyn.
As een van die mees gerespekteerde sakelui in die wêreld vandag het Johann nie sy Suid-Afrikaanse wortels agterweë gelaat nie. Sy erns vir die bedryf, sy belegging in die toekoms daarvan, sy passie vir gehaltewyne en respek vir die natuur het van hom ’n ware legende van die bedryf gemaak.




