Twee beskuldigdes in twee afsonderlike moorde in 2022 is verlede week gevonnis.
Richard Samuels is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het sy 39-jarige vrou, Valentia Samuels, met petrol bestook en aan die brand gesteek. ’n Familielid het destyds verduidelik die twee het glo etlike minute voor die voorval ’n rusie buite die huis gehad.
Die vrou is weer by die huis in en nog nie ’n minuut later nie, het die oorledene se ma gehoor hoe gil haar dogter as gevolg van die vlamme wat haar hele lyf verswelg het. Sy is hospitaal toe geneem en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy tien dae later aan haar wonde beswyk het.
Samuels het uit die dorp gevlug en weggehardloop en is ’n paar dae later in die Paarl in hegtenis geneem. Hy is Donderdag gevonnis.
Intussen is Ruiter Erasmus, wat ook sy vrou in Oktober 2022 aan die brand gesteek het, tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Erasmus het Monica Daniëls op 12 Oktober 2022 16 keer gesteek, die kamer waarin sy was toegesluit en die huis aan die brand gesteek en van die toneel af gevlug. Bure het die rook gesien en gaan kyk wat aangaan. Hy het homself ’n paar dae later aan die polisie oorhandig.
’n Derde beskuldigde is verlede week tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in 2023 vir poging tot moord in hegtenis geneem is. Simphiwe Mhlakazi het ’n vrou op 15 Januarie verskeie kere gesteek in ’n poging om haar lewe te neem in Bonnievale.
Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, adv. Nicolette Bell, het die ondersoek- en vervolgingspan geprys, maar die vlak van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in albei gevalle verwerp.
Bell het die Nasionale Vervolgingsgesag weer eens daartoe verbind om alles binne sy vermoë te doen om die plaag van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te beveg.


