’n Plaaslike dramaturg is onlangs as een van die Suidoosterfees se jong sterre van die seisoen aangewys.

Mikyall Harris van Victoriapark in Worcester stel al van ’n jong ouderdom af in drama belang, maar het eers op hoërskool regtig aandag daaraan begin gee.

“Ek het in graad nege toneel begin doen, maar as ’n buitemuurse aktiwiteit. In graad 10, toe ons, ons vakke kon kies, was drama een van die keuses, maar daai tyd wou ek nog medies studeer, dus het ek toe nie drama as vak gekies nie. Ek het dit steeds as ’n buitemuurse aktiwiteit gedoen. Ek het ook dieselfde tyd begin gedigte en toneelstukke skryf. Dit was baie lekker; ek het dit baie geniet en selfs my vriende het toe vir my gesê ek is baie goed daarin,” vertel Harris, ’n oudleerder van Worcester Gimnasium.

In graad 11 het hy wel aansoek gedoen om medies te gaan studeer en ook ’n kans gevat en by die Universiteit Stellenbosch vir drama aansoek gedoen.

“Ek is toe vir ’n oudisie genooi, maar het gedink daar gaan nie veel van kom nie. Hulle kies net 40 studente uit die hordes aansoeke wat hulle kry. Al die ander by die oudisie was so professioneel en ’n mens kon sien hulle het hard gewerk om voor te berei. Tot my verbasing was ek een van die 40. In 2020 het ek my driejaarkursus daar begin. Daarna, omdat ek so ’n diep liefde vir dié kuns het, het ek verlede jaar besluit om my honneurs in toegepaste drama te voltooi en in Desember gegradueer.”

Maar selfs terwyl hy nog besig was om te studeer, is hy al genader vir ’n internskap as gevolg van sy vorige werke wat al by die KKNK en die Suidoosterfees opgevoer is.

“Ek is vir ’n onderhoud genooi en was baie geseënd om as ’n intern-draaiboekskrywer aan Kelders van geheime te werk. My internskap het verlede maand geëindig.”

Sy toneelstuk, Vani wal af, sal oor die volgende paar maande verwerk word en in 2025 by die Suidoosterfees debuteer. In sy skrywe het hy homself belowe om getrou aan sy komvandaan te bly.

“Ek het oorkant ’n vlakkie gebly. As kind het ek altyd die mense dopgehou en later het ek die ooms en tannies begin namaak. Ek is baie lief vir my mense en daar in die coloured-gemeenskap is ’n magdom goed om oor te skryf. Ek is ook ’n gay man en gebruik my skrywe om die stigma daaroor af te breek.”

Behalwe dat hy in ekstase is oor sy insluiting by die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) Jong Sterre is hy ook besig om een van sy vorige stukke, Suwalla Kassam, in ’n fliek te herskryf.

“Die toneelstuk is al by die Suidoosterfees en die KKNK opgevoer en het selfs ’n Kanna- toekenning vir beste komedie ontvang. Ek en my regisseur, Tamia Thompson, het besluit om Suwalla Kassam in ’n fliek te omskep. Ons het by die Nasionale video- en filmstigting om finansiering aansoek gedoen. Ons wag nog vir hul terugvoer, maar het solank begin om die draaiboek in ’n rolprentdraaiboek te herskryf. Sodra ons die finansiering ontvang, wil ons graag teen die einde van die jaar met voorproduksie begin.”

Hy het ook sy eie produksiemaatskappy, Vlakkie Productions, en sal die rolprent self vervaardig. Hy wil ook deur middel hiervan geleenthede vir plaaslike aspirant-dramaturge skep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article