Die Suid-Afrikaanse rugbyvereniging vir Dowes (Sadra) se direkteur, Peter de Villiers, het saam met sy afrigtingspan die spelers vir die internasionale Dowes- Rugby-7’s-kampioenskap in Cordoba in Argentinië aangekondig.

Die span bestaan uit Rodwin Beyers, Admar Claassen, Marnus Dercksen, Andre du Toit, Gerard Kroese, Johan Liebenberg, Sam Mothapo, Patrick Molotshwa, Boitshepo Motlhala, Nkhumbuleni Nkhumeleni, Leon Willemans en Tashriq Parker.

Die span van 12 sal aan die begin van April met hul hoofafrigter, Marlize van der Merwe, in Gauteng vergader voordat hulle na Cordoba vlieg om hulle vir die toernooi, wat van 5 tot 9 April plaasvind, voor te berei.

Weens ’n gebrek aan finansiering het De Villiers aangekondig dat hy nie saam met die span sal reis nie, maar Van der Merwe eerder in sy plek sal stuur. Volgens De Villiers is dit “opwindend” om haar afrigtingsreis dop te hou sedert hulle ’n jaar gelede begin saamwerk het.

“As ’n afrigter het [Van der Merwe] die nodige vaardighede om die [Suid-Afrikaanse 7’s- Dowes-span] te lei. Sy is een van die eerste vroue-afrigters wat so ’n groep by ’n Wêreldbeker-rugbytoernooi bestuur.”

De Villiers het ook bygevoeg dat hy ander die kans wil gee om na Argentinië te reis, en dus sy vliegtuigsitplek aan iemand anders sal gee.

“Die geleentheid vir ’n Dowes-rugbyspeler om Argentinië toe te reis om sy drome te verwesenlik, is baie groter as vir my. Met die span se finansiële uitdagings is dit beter dat mense soos Van der Merwe en die Dowes-rugbyspelers, wat hul loopbane begin, die geleentheid kry om dit te doen,” sê hy.

Dié kranige rugbyafrigter verduidelik egter dat hierdie reëling nie beteken sy loopbaan by die Suid-Afrikaanse 7’s- Dowes-span is verby nie.

Verskeie borge het hierdie reis moontlik gemaak, en dit sluit Arcelor Mittal as ’n medeborg in, terwyl ander maatskappye die nodige toerusting verskaf het.

Jonsson Workwear borg die span se informele kleredrag terwyl Bananaskinz skrum- en ander toerusting borg.

Verder verskaf die SA Rugby-groep die spelers se wedstryddaguitrustings en bagasie, met rugsakke wat deur Trinity Clothing geskenk word.

Van die begin van die reis het Living Ball ook seker gemaak die span ??het rugbyballe om in die Wes-Kaap en Gauteng mee te oefen.

“Ons bedank ook die Hotel@Hatfield in Pretoria, wat ons spelers vir ons oefenkampe geakkommodeer het,” brei De Villiers uit.

“Met al hierdie wonderlike mense en handelsmerke wat ons ondersteun, is dit nou ons beurt om die werk te doen en vanjaar ’n Internasionale Dowes-7’s-rugby-medalje al die pad huis toe te bring,” sê De Villiers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article