Regs is Jaco Engelbrecht (Dowe hardloper) saam met sy ouers, Koos en Sarie, en broer, Spreeth, kort voor hul vertrek na die VSA om aan die Detroit-marathon deel te neem.


Jaco Engelbrecht, wat op sosiale media as “Jaco – Deaf Runner” bekendstaan, neem Saterdag (7 Oktober) aan die Chicago-marathon in die VSA deel.

Die marathon is deel van sy lewensdroom en sy eerste van die “Abbott World Marathon Majors” wat jaarliks in Chicago, New York, Boston, Londen, Berlyn en Tokio gehou word.

Hy word ondersteun deur sy jonger Dowe broer, Spreeth, en hul ouers, Sarie en Koos.

Jaco is ’n videograaf by die Nasionale Instituut vir Dowes en Spreeth is ’n senior argitek-tekenaar by Terence Harker Argitektuur. Koos is ’n oudonderwyser by De la Batskool vir Dowes en Sarie was ’n verpleegsuster by Nuwerus-ouetehuis.

Albei het al afgetree.

Jaco se lewensdroom het begin toe die gesin in 2016 aan die Breedevallei-parkrun deelgeneem het. Daarna het Jaco fikser geword en sy eerste marathon in 2019 gehardloop. Hy het in 2020 vir sy eerste Comrades-ultramarathon ingeskryf, en as gevolg van die Covid-19-regulasies die virtuele Comrades oor 90 km in Oudemeule- sekuriteitskompleks se 1-km-sirkelroete oor 90 rondtes afgelê.

Hy het die 2021- virtuele Comrades saam met sy oefenmaats Spreeth en Siyanda Buthelezi afgelê. Albei het sowat 45 km elk in die Worcester-, Slanghoek- en Brandvleidam- omgewing saam gehardloop. Daarna het hy die 2022-Comrades van Pietermaritz­burg na Durban in 9 uur en 51 minute afgelê en vanjaar se 87,7 km- Comrades-ultramarathon in 8 uur en 56 minute.

Die gesin reis gereeld saam om in so veel as moontlik verskil­lende dorpe parkruns te doen en was al in meer as 70 dorpe in SA.

Hulle neem Saterdag aan die Cornerstone Lakes-parkrun in Chicago deel.

Sarie en Spreeth het onderskeidelik al meer as 250 parkruns voltooi. Jaco se 250ste parkrun-mylpaal is Saterdag in Chicago.

Volgende week (Saterdag 15 Oktober( hardloop die Dowe broers die Detroit-marathon, wat ’n deel deur Kanada insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article