Double Foot Shooters wat voorloop in BLFA superliga (stroom B) het Saterdag (23 April) op Esselen Park-stadion, View of Hope B met 2-1 geklop in ’n titaniese Noord-Suid derby.
Die wedstryd was op ’n mespunt gebalanseer met Hope wat vroeg-vroeg sy ritme gevind het in die middelveld.
Doubles het egter op die kwartiermerk sy neus voor gekry toe sy topdoelskieter, Lincoln Appels (10 doele), die goeie samespel tussen Keaunu Links, Danwill Nimrod en Zandre Appels afgerond het.
Hope se middelskakels kombineer in die 20ste minuut pragtig, maar Theo Debruin se kragtige dryf skop word skitterend uitgehou deur die Doubles doelwagter, Jowhaine Verhoog.
Doubles begin egter meer met selfvertroue speel en Mahmud Sahabodien (9 doele) verdubbel die telling na 2-0 nadat Zandre Appels pragtig wegbreek en hom in besit stel.
Hope begin die tweede helfte met hope vuur en Jowhairan November bring sy span terug in die prentjie met ’n puik doel.
Doubles-afrigters Willie van Rooyen en Bardo Verhoog vuur hul spelers aan om die doodskoot toe te dien, maar die besluitneming en afronding weerhou hulle van ’n groter oorwinning
Doubles-verdediger Waldo Verhoog was op sy beste en is welverdiend aangewys as die speler van die wedstryd, terwyl Ronaldo van Wyk, Keanu Links, Zandre Appels en Jowhaine Verhoog ook uitgeblink het.


