Die Double Foot Shooters-sokkerklub van Worcester het die afgelope Sondag (25 Junie) in De Doorns teen Brave Defenders in ’n promosie-ligawedstryd gespeel en 4-1 gewen.

Die Doubles was vroeg-vroeg voor toe die voorspeler Mahmud Sahabodien ’n doel geskop het, nadat Lincoln Appels ’n doel neergelê het.

Die Doubles het aangehou met hul puik spel toe O’Ryan Sass ook ’n pragdoel aangeteken het, ná Eldoraan Nicholaas hom in besit gestel het.

Die Defenders se middelskakels het nogtans goed presteer toe een van die span se voorspelers kort voor rustyd ’n doel aangeteken het.

Ná rustyd het die tweede helfte vir heelwat aksie gesorg toe Doubles se O’Ryan sy tweekuns voltooi het nadat Abongile Jafta en Linfred Matolla in tandem gewerk het.

Die Doubles se Johndre Julius het in die 75ste minuut die tuisspan se harte behoorlik gebreek met ’n puik doel nadat Geoffered du Plessis en Lincoln Appels die harde werk gedoen het.

Doubles se verdediger, Waldo Verhoog, was kalm onder die druk en is aangewys as die speler van die wedstryd.

Jowhaine Verhoog, Cameron Sass, Ronaldo van Wyk en O’Ryan Sass het ook uitgeblink.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article