In Vader Cyril Axelrod, ’n DoofBlinde persoon, se boek The Journey Continues, word vertel hoe hy genooi is om ’n aanbieding oor sy lewe en werk by ’n laerskool te lewer.
By die aanbieding het hy sy ervaring oor DoofBlindheid in sy daaglikse lewe gedeel. Hy het van die uitdagings vertel om in die “normale” lewe aan te pas, maar hy het ook verduidelik hoe sy gestremdheid ’n gawe vir ander kan wees.
DoofBlindheid het ’n eiesoortige wysheid. Dit is wysheid wat kan help om die eindelose hindernisse in ’n DoofBlinde mens se lewe te oorkom. ’n Deel van hierdie wysheid is om die uitdagings wat DoofBlindheid meebring in die gesig te staar. ’n DoofBlinde wat sy of haar ervaring met ander mense deel en sodoende bewusmaking onder mense kweek, is ’n gawe van onskatbare waarde. Hierdie bewusmaking bring mee dat ’n gemeenskap die hart en gedagtes ontvanklik kan maak om hierdie gawe van die DoofBlinde meer te waardeer. Dit bring kennis en begrip mee, saam met vreugde en waardering.
Gestremdheid word nie sommer as ’n gawe erken nie, maar hierdie positiewe boodskap moet na die wêreld gestuur word dat dit hoop en bemoediging in ’n wêreld van wanhoop en onsekerheid kan bring.
By daardie aanbieding van Vader Axelrod was ’n seun in ’n rolstoel. Die seun het ontroosbaar gehuil aangesien sy gestremdheid vir baie jare ’n negatiewe invloed op sy lewe gehad het. Die feit dat hy gehoor het sy gestremdheid was ’n gawe waarmee hy ’n verskil in ander mense se lewe kon maak, het hom diep geraak.
Te veel mense neem aan dat simpatie, bejammering of liefdadigheidswerk die enigste manier is om mense met gestremdhede te ondersteun. ’n Gestremde moenie afhanklik wees van die gemeenskap om te definieer wie hulle is en voor te skryf wat hul rol in die samelewing is nie.
Gestremdes moet hulself erken en hul gestremdheid as gawes in die samelewing gebruik.
Ons word aangemoedig om wat ook al na ons kant toe kom, hetsy goed of sleg, te aanvaar. Dit is wel die wyse hoe ons op omstandighede reageer wat kan bepaal of die uitkoms ons lewe positief of negatief gaan beïnvloed.
082 688 5344 of stuur e-pos aan n.d.a@deafblindsa.co.za / info@deafblindsa.co.za en vind uit hoe u ? verskil in DoofBlindes se lewe kan maak.


